GEORGE NUUS - Tuiniqua-versorgingsentrum se jaarlikse kermis, wat verlede jaar alle verwagtinge oortref het, word op Saterdag 3 November om 09:00 gehou.
In die sentrum word reeds met groot verwagting uitgesien na die geleentheid.
"Agter die skerms werk die inwoners hard omdat hulle nie net wil ontvang nie, maar meer as hul deel wil doen om die broodnodige geld te bekom sodat voortgegaan kan word om te voorsien in die aftreebehoeftes van die gemeenskap," sê Coenie Ritter, 'n inwoner.
Die kermis bied 'n verskeidenheid om te eet - pannekoek, poedings, worsbroodjies, vetkoek, kerrie-en-rys en soetgebak asook pragtige naaldwerk en kostuumjuweliersware.
Vir die gesondheidsbewustes is daar plaasvars groente en vrugte en tuinliefhebbers kan wegstap met 'n verskeidenheid plante wat te koop sal wees. 'n Springkasteel en gesigverf sal kinders besig hou.
As u nie wil toustaan nie, kan kaartjies vooraf by die kassiere gekoop word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'