Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hannes Barnard se boek, Halley se Komeet is verlede week Dinsdagaand 20 Augustus aan huis van sy vriend van baie jare, Shawn Northey in Heatherlands, George bekendgestel.
Die vorm van die aand was 'n gesellige gesprek gelei deur Northey en Barnard se vrou, Yolandi, met 'n nuuskierige gehoor wat gretig deelgeneem het.
Barnard debuteer met hierdie boek wat vertel van die grootwordjare in die 80's van Pete de Lange, 16-jarige Afrikaanse seun van die klein dorpie Dannhauser in Natal. Sy normale dag-tot-dag bestaan word omver gewerp deur 'n traumatiese insident aan die begin van sy st. 8-jaar in 1986.
Dit laat hom vrae vra wat hy nie verwag het hy sou nie. Tydens die insident word Pete gekonfronteer deur Rudie, 'n rassistiese skurk op die dorp, en ontmoet hy twee vreemdelinge, 'n Zulu-seun Petrus en 'n Indiërmeisie Sarita.
Die drie moet vir hulle lewens van Rudie af wegvlug. Dit is die begin van 'n onwaarskynlike vriendskap tussen die drie jongmense.
Terselfdertyd word die storie vertel van Sarita se pa, Venny, 'n winkelier wat eintlik 'n aspirant-vryheidsvegter is wat deel wil wees van die struggle. Hy loop met 'n wrok in sy hart en maak dom besluite, wat verreikende gevolge het vir die gemeenskap.
Volgens Barnard behoort Halley se Komeet by volwassenes en tieners aanklank te vind. "Die verhoudings en gesprekke in die boek is universeel. Daar is ook baie parallelle tussen 1986 en 2019. Mense voel moedeloos, ander kwaad, asof daar nie hoop is nie."
Vroeg in die boek is hy deur sy eie waardes gekonfronteer toe daar besluit moes word of Rudie se growwe taalgebruik uitgelaat moes word. Dit het onder meer die k-woord bevat.
Uiteindelik is besluit om dit nie af te water nie en getrou te bly aan die karakter se rassistiese aard.
Halley se Komeet is eintlik Barnard se tweede boek. Hy het spottenderwys vertel van sy eerste boek wat drie keer so lank is en onderin 'n laai weggesteek lê. Dit het lank gevat om te voltooi omdat hy nie elke dag geskryf het nie. Met die neerpen van Halley se Komeet het hy gedissiplineerd elke dag begin skryf en die konsepweergawe was binne twee maande klaar. Hy skryf so 2 500 woorde per dag.
Kyk 'n video hieronder
Barnard het ook bietjie meer vertel oor sy vooraf navorsing vir die boek.
Yolandi is sy klankbord. Sy het vertel dat sy tot die besef gekom het hoe 'n geïsoleerde proses skryf is. Terugvoer van uitgewers aan wie die manuskrip voorgelê word, kan maande neem en wanneer daar 'n 'nee' terugkom, word redes daarvoor nie verskaf nie.
Lapa onder hul nuwe druknaam, Wenkbrou wie se oogmerk dit is om stories te publiseer wat buite tradisionele genres val, gee hierdie boek uit. Lapa het Barnard nou uitgenooi om hulle te verteenwoordig as die enigste Afrikaanse skrywer by die Midlands Literary Festival aan die einde van die maand, nie sleg vir 'n debuutskrywer nie.
Barnard het gesê hy hoop sy boek kan bietjie hoop aan mense gee. Hy en Yolandi het vir 12 jaar in Engeland en toe twee jaar in die Seychelles gewoon. Hulle wou nog altyd terugkom en noudat hulle weer in Suid-Afrika is, wil hy graag bydra tot 'n positiewe en gebalanseerde gesprek oor die land.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'