GEORGE NUUS - Ina Otto van Borcherds, het haar leerlinglisensie in die ouderdom van 79 verwerf. Sy het reeds twee jaar gelede lesse begin neem, maar dit het toe verval. Nou het sy weer probeer en op 13 Februarie het sy uiteindelik haar leerlinglisensie gekry.
Duwayne Otto, haar kleinseun, sê hulle ondersteun haar ten volle.
"Toe sy na ons gekom het met die idee dat sy haar leerlinglisensie wil kry, was dit eers 'n skok. Ek het haar belowe as sy deurdring en slaag, sal ek vir haar 'n klein geskenkie gee."
Ouma Ina sê sy het jare gelede 'n droom gehad dat sy 'n groot trok ry, so sy wil graag haar lesse met die kode 10-trokkie doen.
Sy moes egter 'n nuwe bril kry om te kan bestuur, sy het voorheen net 'n bril gebruik om te lees.
Sy staan vir niks terug nie. "Ek wil self kerk toe ry en vir familie gaan kuier. Ek sal ook vir Duwayne op die lang pad help as hy moeg raak," grap sy.
Sam Wagenaar, die eienaar van die Marilyn's-bestuurskool sê dit was vir hulle ook 'n skok. Wagenaar sê hy het die tannie 'n paar keer gevra of sy seker is sy wil die moeite doen, nadat hy haar 'n blad met padreëls gegee het.
"Sy het saggies gesê, 'Ja meneer'. Daarna het sy vir elke afspraak opgedaag, in die warmte en selfs toe dit gereën het. Ek het die vrae saam met haar deurgegaan en haar dan getoets. Sy het elke keer meer onthou."
Wagenaar sê haar deursettingsvermoë is ongelooflik, dat sy hiervoor kans gesien het, maar ander vroue veel jonger as sy, voel hulle is te oud. Sy begin binnekort met haar rylesse.
Ouma Ina Otto en haar kleinseun Duwayne Otto.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'