GEORGE NUUS - Noem hom dr. Otto of net Duwayne, maar asseblief tog nie meneer nie. Daarvoor het hy te lank en hard gewerk vir die mediese titel. En te oordeel aan die lofredes van familie en vriende op sosiale media, mag dr. Duwayne Otto maar gerus spog met wat hy vermag het.
"Ek het al in gr. 2 gesê ek wil 'n dokter word. En al was daar mense wat bietjie negatief was, het ek dit gemaak." Otto het in 2012 sy mediese graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
Hy was op skool by Heidedal Primêr en Hoërskool George. Al beskou Otto homself nie as slim nie, was hy nog altyd bereid om hard te werk om te kom waar hy wou wees. Vandag besit hy sy eie dokterspraktyk in die middedorp na hy 'n punt bereik het waar hy meer vir homself wou hê as om by 'n kliniek te werk.
"Ek het verveeld geraak en wou liewer verder gaan studeer om te spesialiseer, maar dinge werk nie altyd uit soos wat jy beplan nie."
Otto het reeds twee jaar gelede die gebou by Cradockstraat 74 gekoop, maar eers begin Augustus hierdie jaar sy praktyk se deure oopgemaak. Hy sê die nuus oor die nuwe dokter - boonop een wat uit Borcherds kom - versprei stadig maar seker.
Sy familie ondersteun hom voluit en hy weet sy praktyk sal baie voorspoed geniet.
Hy lag as hy dink aan hoe stresvol sy eksamens destyds was, en onthou die verligting toe hy uitgevind het dat hy al sy eksamens - medies en snykunde - geslaag het.
"Jy kry nie jou lisensie as jy nie albei slaag nie. Ek en my vriende het almal in 'n kamer gewag vir die oproep dat ons uiteindelik dokters is, en dit kon nie gou genoeg kom nie."
Hy sê hy is steeds dieselfde persoon, net met "dokter" voor aan sy naam.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'