GEORGE NUUS - Minderbevoorregte skoolmeisies bly dikwels van die skool af weg omdat hulle nie sanitêre doekies kan bekostig nie.
Dit is vir sulke meisies wat 'n inwoner van George, Yolinda Thomas, 'n sagte plekkie het.
Sy het met haar verjaarsdagpartytjie verlede week gevra dat haar gaste in plaas van om 'n geskenk te bring, eerder 'n donasie gee aan 'n welsynsorganisasie wat wasbare, herbruikbare sanitêre doekies onder minderbevoorregte meisies versprei.
Die organisasie, Dignity Dreams, se doel is om skoolmeisies te bemagtig en menstruele gesondheid en opvoeding te bevorder. Voorheen benadeelde en werklose vroue vervaardig die doekies, dus skep die projek ook werk en word vroue se vaardighede ontwikkel.
Die produk dra die SABS-stempel en met goeie sorg, hou dit ongeveer vier jaar.
Thomas sê sy het by die projek betrokke geraak nadat haar suster, Laurette Marais, ingeskryf het vir die Mrs Africa Classic 2019-kompetisie. Dignity Dreams is een van die begunstigde organisasies wat geld ontvang wat deur die deelnemers ingesamel word. "Ek het besluit om in te spring en deel te wees van my sus se reis en terselfdertyd hier plaaslik 'n verskil te maak.
"Ons gaan ons eerste oorhandiging van sanitêre doekies in Desember maak aan 22 meisies van Sports Academy George (SAG)." SAG, 'n Christelike organisasie, gebruik sport as 'n medium om jongmense vir 'n beter toekoms voor te berei.
"Ek is baie opgewonde ná die wonderlike reaksie wat ek gekry het met my verjaarsdagpartytjie. My sus het 'n 12-maande kontrak aangegaan om die projek te ondersteun. Ons het groot planne vir die jaar om soveel moontlik skoolmeisies op hierdie manier te help."
'n Donasie van R250 betaal een Dignity Dreams-pakkie met ses doekies in.
Bel Thomas by 082 401 9697 vir meer inligting oor hoe om 'n skenking te maak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'