LEEFSTYL NUUS - Hoekom trek my hond aan sy leiband as ons stap? Dit is 'n probleem waarmee geweldig baie mense worstel.
Daar is ook nie net een antwoord nie. Wanneer jy gaan stap is daar baie dinge wat die hond se belangstelling prikkel.
Hy sien miskien 'n voel in die vêrte, of 'n kat, of 'n ander hond, of water waarin hy wil gaan speel.
Daar is soveel reuke wat hy graag sal wil ondersoek.
Nou kom ons dink gou biejie, al daardie dinge is in die verte. Langs hom loop jy.
Tussen julle twee is die leiband. Wat dink jy stel die hond meer in belang?
Jy wat sommer net daar is, of die wye wêreld wat hy wil gaan verken?
Wel, ongelukkig kom jy tweede. Die wêreld is baie meer interessant as ek of jy en hy sal dus veel liewers daar wil wees as langs ons.
So wat moet ons doen om dit te verbeter?
Ons moet basies vir die hond leer dat ons ook baie interessant is.
Jare gelede is honde geleer met 'choke chains'.
Elke keer as die leiband styf word, is hy gepluk tot in die posisie langs jou. Hy het dus nie 'n keuse gehad as om langs jou te loop nie.
Vandag werk dit anders. Ons wil die hond nie dwing om langs ons te loop nie. Ons wil hê hy moet uit sy eie vrye wil langs ons loop, hy moet dit so geniet dat hy langs ons wil loop.
So, ons begin opleiding op 'n plek waar sy aandag nie maklik afgelei kan word nie. In jou agterplaas byvoorbeeld waar hy aan alle reuke en dinge gewoond is.
Hou heerlike stukkies kos waarvan hy baie hou byderhand.
Sit hom op sy leiband en noem sy naam. Elke keer as hy aandag gee, kry hy 'n stukkie kos.
Begin loop met hom en bly vra vir aandag. Onthou om hom te beloon met 'n stukkie kos elke keer as hy na jou kyk.
So wat leer ons die hond nou? Ons leer die hond dat ons ook interessant is.
Meer interessant as die dinge om hom. As hy glad nie meer trek nie, gaan ons 'n stappie verder. Ons gaan stap miskien in die straat.
Indien hy wel begin trek, stop ons. Dit beteken vir die hond indien die leiband styf word, word alles gestop.
Hy gaan nie vorentoe waar hy graag wil gaan nie, en hy kry ook nie sy beloning nie.
Sodra die leiband weer slap is, gebeur alles wat lekker is. Hy beweeg vorentoe en word met sy gunsteling kos beloon elke keer as hy vir jou aandag gee.
Met tyd sal die hond al hoe minder wil trek en al hoe meer langs jou wil loop.
Vir meer inligting voel vry om my te kontak by george@rehabdogworks.com.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'