GEORGE NUUS - 'n Ma van Parkdene is kapot en haar senuwees uitgerafel weens haar 12-jarige dogter wat in die web van dwelms vasgevang is.
Die meisie bly weg uit die skool, slaap partykeer heeldag om, kom laatnag tuis of verdwyn vir 'n hele naweek, en sy steel. Met 'n huiswerkersinkomste spook die ma reeds om huis en haard bymekaar te hou. Die meisie het ongeveer twee jaar gelede begin dagga gebruik, maar is nou op sterker dwelms.
Haar besorgde werkgewer sê die vrou daag soms in trane by die werk op.
"Ek het haar gehelp om by verskeie instansies aan te klop, maar almal sê daar is geen rehabilitasiesentrums vir sulke jong kinders nie. 'n Kind soos sy behoort opgeneem te word. Sy kan nie in haar omgewing bly én beter word nie. 'n Mens kan tog sekerlik nie die kind net aan haar lot oorlaat nie. Die ander familielede ly ook daaronder."
Die ma het dit intussen reggekry om haar dogter vir 'n dwelmtoets by Sanca (SA Nasionale Raad op Alkohol- en Dwelmmisbruik) te neem. Sy het positief getoets en het begin met groepsterapie. Na haar eerste terapiesessie was sy weer op straat en het sy oudergewoonte voortgegaan.
Denise de Beer, Sanca George se direkteur, het by navraag gesê voordat opname in 'n rehabilitasiesentrum oorweeg kan word, moet 'n verslaafde eers terapieprogramme bywoon.
Hulle programme vir minderjarige kinders vind meestal in groepsverband plaas, tensy daar 'n behoefte vir individuele terapie geïdentifiseer word. Hierin word gefokus op bewusmaking van die gevare van middelmisbruik, tegnieke om dit te staak, sowel as sekere lewensvaardighede om aspekte soos groepsdruk, moeilike lewensomstandighede, swak selfbeeld en selfhandhawing te hanteer.
Volgens De Beer het hulle uit ondervinding geleer dat die ouers of voogde van die gebruiker 'n baie belangrike rol speel in die pad na herstel. "Dikwels toon ouers beperkte vaardighede en kennis om gedrag te beheer wat vererger word deur middelmisbruik en daarom moedig ons ouers aan om by ons ouerskaps-vaardigheidsprogram in te skakel."
Hierdie program help ook om verhoudings binne die gesin te versterk wat die ondersteuningsnetwerk van die persoon te verbeter.
Sy sê hulle werk ook nou saam met gesinsorganisasies soos Famsa, Kindersorg, Badisa en ACVV om ouers of voogde by te staan in die bestuur van hul kinders se gedrag.
"Indien daar gevind word dat hierdie pogings onsuksesvol was met die samewerking van die gebruiker en gesin, word die moontlikheid van binnepasiënt-behandeling ondersoek. Ongelukkig is daar beperkte sentrums beskikbaar vir jong kinders en privaat sentrums is dikwels te duur vir die gemiddelde mens sonder 'n mediese fonds. Sanca George is wel bereid om 'n persoon te help met die aansoek om opname, indien 'n geskikte sentrum vir behandeling gevind word.
"Ek wil graag ons meegevoel met die ma betoon ten opsigte van die situasie met haar dogter. Ons verstaan dat dit 'n uitdagende taak is om 'n tiener in vandag se tyd met al die sosiale uitdagings te lei en onderrig.
"Ongelukkig is dit 'n realiteit dat daar beperkte hulpbronne beskikbaar is en ons hoop dat ons haar kan bystaan in hierdie grootse taak wat sy as ouer het."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'