'n Antieke meubelstuk van hout behoort altyd sy outydse karakter te behou. Wanneer dit nodig word om 'n ou stoel, wastafel of klerekas ná jare se gebruik te herstel wil jy hê dit moet soos die oorspronklike lyk sonder dat jy die voorkoms verander het.
As jy stukkende meubles herstel en restoureer help dit om boeke oor en foto's van antieke meubelstukke versamel.
So help dit jou om te identifiseer uit watter tydperk die meubels kom. Wanneer dele soos 'n rugkant of pote van 'n meubelstuk ontbreek, gee 'n foto 'n goeie idee van hoe dit weer tot sy eertydse voorkoms herstel kan word.
Antieke meubels moet so gerestoureer word dat dit ook weer bruikbaar kan wees. Indien jy dit egter te duur vind, kan goedkoper materiaal gebruik word. Maar probeer om die oorspronklike voorkoms te behou en gebruik die oorspronklike materiaal sover moontlik.
Om meubels te restoureer is harde werk, maar as jy dit self doen, verhoog dit die sentimentele waarde daarvan. Die selfdoener wat graag ou meubelstukke wil regmaak, moet beslis 'n liefde vir hout hê . . . en baie geduld daarby.
Jy het die volgende nodig:
- basiese gereedskap vir houtwerk (handsae, figuursaag, beitels, handskaaf),
- elektriese skuurmasjien (veral vir groot oppervlakke soos 'n tafelblad),
- draaibank, verdieper (router) en klampe.
- Jy gaan waarskynlik ook skroewe, spykers, tappenne (dowels) en houtlym gebruik.
Die voorbereiding van die meubelstuk en die manier van aanwending van die seëllaag ná afhandeling , moet deeglik gedoen word. In die meeste gevalle hoef meubels slegs afgeskuur te word. Soms is 'n staalborsel nodig, of skuur eers met growwe skuurpapier en dan met papier met 'n fyn grein om die hout mooi glad te kry. Vir hout met dik lae verf of vernis, gebruik 'n hittestroper of 'n geskikte chemiese stroper. Was goed af met suikerseep en skoon water.
'n Stoel wat byvoorbeeld lendelam geword het en gevaarlik is om op te sit beteken gewoonlik die voeë het losgekom en van hulle is dalk gebreek. Sou die hout erg beskadig wees, moet die hele houtdeel vervang word en voeë (soos die oorspronklike) gemaak word. Indien net die voeë beskadig is, kan tapgate geboor en tappenne gebruik word en met behulp van houtlym geheg word.
Die moeilikste deel van restourasiewerk is die maak van die voeë (duif- of swaelstert) met die hand. Om byvoorbeeld 'n poot te draai - veral by die dunste deel van die hout - om soos die ander te lyk is ook nie altyd maklik nie. Gebreekte pote kan meesal met langerige tappenne herstel word.
Spykers moet so min as moontlik gebruik word. Gebruik klein spykertjies en dan slegs as 'n versterking vir sekere dele wat aanmekaar gelym moet word. Skroewe word byvoorbeeld gebruik om 'n tafel se blad aan die basis vas te maak. Dit is dan maklik om uitmekaar te haal as die eienaar verhuis.
Die spykers en skroewe moet altyd onopsigtelik wees. Skroewe veral moet versink wees en met 'n mengsel van saagsels en lym opgevul word.
Moenie probeer om 'n tekortkoming soos 'n keep of brandmerk (mits dit nie te groot is nie) in die houtwerk van 'n antieke meubelstuk op te vul met 'n stopmiddel nie. Dit verleen 'n outydse karakter en behoort net glad geskuur te word - al is die merk nog sigbaar.
As 'n afwerking gebruik 'n seëllaag wat redelik dof vertoon ná aanwending.
Vir stinkhout word minstens drie lae olie aanbeveel en nadat dit goed ingetrek het, kan die seëllaag aangewend word.
Moenie kortpad vat met die finale afwerking nie. Wat 'n mens ook al as seëllaag gebruik, volg altyd die aanwysings op die houer vir die beste resultate.
Daar is oneindig baie genot in die finale produk wat jy self gerestoureer het.
ARTIKEL: EMSIE MARTIN