GEORGE NUUS - Motoriste wat vir kinderbedelaars op straat geld gee, voed hulle dwelmgewoontes en dra daartoe by dat gesinne uitmekaar skeur.
Só sê Freddy Trout, stigter en uitvoerende hoof van People Against Substance Abuse (Pasa).
Trout was self 'n dwelmverslaafde in sy jonger dae.
Hy sê die goeie werk wat Pasa, Kidstop en Change for Hope doen om straatkinders en dwelmverslaafdes te help, word gekortwiek deur hierdie mense wat eintlik goed bedoel.
"Die seuns wat by die verkeerslig by Redefine Boulevard in Yorkstraat bedel, kry baie geld.
"Nou die dag toe ek hulle vir 'n soveelste keer gaan wegjaag, was een van die laaities baie vermakerig toe hy vir my sy rol R10-note wys.
"Hierdie kinders hét huise en daar is mense en organisasies wat met hulle werk en hulle probeer terugkry by hul gesinne en by die skool.
"Hulle koop nie kos met die geld nie, hulle gebruik dit vir dwelms.
"As jy geld gee vir so 'n kind, help jy hom eintlik om homself dood te maak en jy wakker misdaad aan.
"Jy gee vanoggend vir hom geld en vanaand wanneer hy op dwelms is, breek hy by jou huis in en sny jou keel af."
Trout sê van die kinderbedelaars kry meer geld as van die mense wat vir hulle die geld gee.
Hulle kan tot R600 per dag ontvang.
"'n Dwelmverslaafde van George het vertel hoe hy deur te bedel oor 'n vakansieseisoen R8 500 binne twee weke gemaak het."
As mense wil help, kan hulle eerder Change for Hope se straatkollektes ondersteun.
Die geld wat ingesamel word, word spesifiek gebruik om dwelmverslaafdes van die straat af te haal en na 'n rehabilitasiesentrum in die Kaap te neem.
Wanneer hulle die rehabilitasieprogram deurloop het, moet hulle voortgesette berading by die Family Transformation Centre (FTC) in George ontvang waar Trout 'n berader is.
Die program is uiters suksesvol.
Peter-John (links in albei foto's) en Kenneth Truter afgeneem toe hulle in die rehabilitasiesentrum opgeneem is, en ongeveer drie maande later.
'n Klomp Georgiete het 'n nuwe lewe danksy Trout wat hom oor hulle lot ontferm het.
Een van hulle is Monique Bailey wat nou as ontvangsdame in Kaapstad werk terwyl sy in die halfweghuis by die sentrum woon.
Haar kêrel, Pieter, saam met wie sy op die strate van George gebedel het, werk deesdae as 'n hoofsjef in 'n restaurant by die Waterfront.
Monique Bailey het verander van 'n uitgeteerde jong vrou wat van dwelms op straat gelewe het na haar gesonde self. By haar op die foto links is haar vriend, Pieter, wat ook die program deurloop het en nou as 'n sjef werk.
Peter-John Truter is haarkapper in die sentrum en sy broer, Kenneth help met die algemene instandhouding van die plek.
Shaun Oosthuizen ontvang opleiding as berader.
Sy ma Beulah is een van die vrywilligers wat blik skud wanneer Change for Hope straatkollekte hou.
Shaun Oosthuizen is 'n nuwe mens na vier maande in die rehabilitasie-sentrum. Hy word tans as berader opgelei.
Trout sê ses mense van George word op die oomblik by die sentrum behandel.
Dit kos R21 000 per maand.
Die geld wat deur Change for Hope se straatkollektes ingesamel word, word hiervoor aangewend.
Mense wat bereid is om te help met 'n donasie vir fooie, kan Trout bel by 071 090 4450.
Gideon van Zyl het op 15 Desember by die sentrum aangekom. Freddy Trout vervoer die verslaafde persone self van George na die sentrum.
Besighede kan 'n 18A-belasting-sertifikaat ontvang en kan ook baat by BBBEE-punte.
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'