TUINROETE NUUS - Clivias is inheems aan Suid-Afrika, floreer in koeltedele van tuine en het min water nodig. Die meeste tuiniers is waarskynlik bekend met clivia miniata met sy oop oranje blomme (boslelie). Baie kleure miniatas is gekweek - donker rooi, perske, pienk, geel, appelkoos, groen en gemengde kleure.
Die ander lede van die clivia-familie (gardenii, robusta, caulescens, mirabillis, nobilis) het almal klokkietipe blomme teenoor miniata se oop blomme wat na bo wys.
Hierdie clivias blom op verskillende tye en jy kan vir meer as 10 maande van die jaar cliviablomme in jou tuin hê.
Die verskillende spesies word die afgelope 20+ jaar kruisbestuif (Interspesie) met uitstaande resultat.
Die Tuinroete-cliviaklub bied Saterdag 5 Augustus van 09:00 tot 13:00 by die Tuinroete Botaniese Tuin in Caledonstraat, George, ’n skou aan waar klokkietipe clivia-blomme uitgestal word. Toegang is gratis.
Lede van die klub gaan ook clivia-plante, saailinge en saad te koop aanbied. ’n Goeie geleentheid vir die publiek om goeie plante teen billike pryse te bekom.
Die Tuinroete Botaniese Tuin se kwekery gaan oop wees en besoekers sal dus ook ander inheemse plante kan aanskaf. Die teetuin met sy speelpark vir kinders is gereed om besoekers te bedien.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'