Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - George is gister, Sondag 1 Maart aangekondig as ‘n Wes-Kaap semi-finalis in Kyknet se Kwêla Dorp van die Jaar kompetisie!
George het tot die volgende ronde van die kompetitisie deurgedring, maar die stryd is straf want ons kompeteer met drie dorpe in nege streke om tot die volgende fase deur te dring.
George se mededingers in die Wes-Kaapstreek, is Oudtshoorn en Swellendam.
George-munisipaliteit, en veral die Toerisme afdeling, wil u graag beaam om vir George te stem sodat George die volgende ronde kan bereik, en ‘n kans staan om ‘n ongelooflike R1-miljoen se bemarkingswaarde in te palm.
Joan Shaw, toerismebestuurder van George sê: “Stem asseblief vir George as Kwêla se Dorp van die Jaar 2020. Alhoewel George nie noodwendig die tradisionele groot toerisme aantreklikhede bied nie, is ons dorp ryk aan natuurskoon, uitstekende infrastruktuur, diverse talent en is ons unieke aanbieders van uitmuntende kos- en kuns produkte.
"Ons mense is gasvry en interessant en ons bied een van die beste leefstyle in die land. Volg gerus ons sosiale media-veldtog op George, Wilderness en Uniondale Toerisme se blaaie om te hoor wat George se bekendes dink!”
Hoe werk dit?
Die Kwêla webtuiste vra: “Maak jou dorp se mense die lekkerste gebak? Is dit die een dorp in die land waar jy altyd sal tuis voel as jy in die strate afry? Hoeveel skatte lê versteek in jou gemeenskap? Is julle slaghuis die bes bewaarde geheim in die land? Benoem nou jou gunsteling dorp en staan ’n kans om met die dorp en die mense daar te spog!”
Enige dorp in Suid-Afrika of Namibië kan benoem word, mits dit minder as 500 000 inwoners het en nie in die laaste 5 jaar ‘n wenner of finalis aangewys is nie.
George is reeds as ‘n semi-finalis benoem vir die Wes-Kaap, maar moet nou met dorpe in die ander streke meeding; naamlik Gauteng en Noordwes saam, Noord-Kaap, Oos-Kaap, Wes-Kaap. Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Namibië.
Uit elke streek het die dorpe met die meeste benoemings nou deurgedring na die semi-finale ronde. Nou kry die publiek vir ‘n week lank elke ronde ’n geleentheid om vir hul gunsteling-dorp te stem. Die ronde laat net 30 SMS’e per nommer toe. Die dorp met die meeste stemme dring deur na die finale ronde.
Sou George deurdring na die volgende ronde, sal Kwêla ’n insetsel kom verfilm.
Wanneer al nege dorpe op Kwêla aangewys is, sal die publiek van 18:00 op 24 Mei tot 12:00 op 29 Mei 2020, vir die wendorp kan stem.
Die dorp met die meeste stemme word as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys en wen dan R1-miljoen se bemarkingswaarde van kykNet. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal ’n 45-sekonde advertensie oor die dorp maak, wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word.
Kyk 'n video hieronder.
Daar sal ook ’n KIA Dorp van die Jaar-makietie in die wendorp gehou word – musiek, kos, pret en sommer baie van daai wendorp-gees! Kwêla sal weer daar wees om dit te verfilm, en dit sal later die jaar uitgesaai word.
Die Wendorp sal voor of op 29 Junie 2020 op Kwêla aangekondig word. Gaan na kykNET se webblad, www.kyknet.tv vir nog besonderhede, en onthou om te stem. Nie net in hierdie ronde nie, maar ook in die volgende ronde.
Vir George om die volgende ronde te bereik, moet jy stem! SMS George na 33157.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'