GEORGE NUUS - As 'n jong man van 20 het Wiets Botes uitgevind hoe belangrik dit is om bloed te skenk.
"Ek is destyds deur 'n vriend genooi om saam te gaan. Ek het na daardie eerste skenking besef dat dit 'n onbaatsugtige diens aan jou medemens is om bloed te skenk en nie eens te weet wie dit gaan kry nie."
Botes sê bloed is soos 'n valskerm, "as dit nie daar is as jy dit nodig kry nie, is dit te laat". Hy sê dit het hom geweldig goed laat voel om bloed te skenk, wetende dat iemand uit 'n hospitaalbed gaan opstaan en gesond word as gevolg van sy skenking.
Oor die jare sê Botes het hy baie vriende aangemoedig om ook bloed te skenk, maar namate hy ouer geword het, het dit afgeneem.
"Want my ouer vriende het of reeds geskenk of nie belanggestel nie. Tussen my vrou, Wilma, en twee dogters Elmien en Anja, het slegs my oudste dogter Elmien begin bloed skenk."
Botes wat in Danabaai woon sê die bloedbank het nie permanente sentrums in alle dorpe nie. Volgens hom is daar gewoonlik in die groter dorpe 'n permanente sentrum en satellietsentrums in die omliggende dorpe.
"Die satelliete is gewoonlik 'n karavaan wat uitgestuur word vir 'n dag en skenkers kan daar in hul dorp skenk. Skenkers kan elke 56 dae 'n eenheid skenk wat 475 ml is, maar die satelliet is nie noodwendig na elke 56 dae in jou dorp nie."
Wiets Botes en sy oudste dogter, Elmien, wat saam bloedskenk.
Hy sê hy wil graag gereeld skenk en daarom ry hy tans van Danabaai na George, om die ses eenhede wat per jaar geskenk kan word wel te skenk.
Botes sê bloedskenk laat hom goed voel, maar hy dink nie hy is uniek omdat hy reeds 250 eenhede geskenk het nie. "Daar is nog baie ander mense wat dieselfde mylpaal bereik het. Die bloedbank gee erkenning aan skenkers deur aan hulle geskenke en medaljes te gee as jy 50, 100, 150 ens. eenhede geskenk het."
Hy is reeds 64 en kan slegs elke 56 dae (8 weke) 'n eenheid skenk. Dit is ongeveer ses en 'n half eenhede per jaar.
Om sy mylpaal van 300 eenhede te bereik, moet hy nog 50 eenhede skenk. "Dit beteken 50 skenkings neem dus net 'n bietjie minder as agt jaar as alles reg verloop en ek nie 'n skenking mis nie. Ongelukkig is mens soms siek en moet jy wag tot jy gesond is voordat jy mag skenk of jy is weg met vakansie as jou datum opkom en mis jy 'n paar dae."
Sy eerste skenking was op 7 Augustus 1975 en sy 250ste op 3 Mei vanjaar. "Ek wil dus waag om te sê dat ek 300 eenhede in 2028 gaan bereik."
Wiets kry hier 'n medalje vir sy bereidheid om bloed te skenk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'