Ek is nou twee jaar in Australië, en ‘n mens vergeet gou hoe heeltemal verskil ‘n ander land van jou eie. Totdat iemand van Suid-Afrika nuut hier land en my weer daaraan herinner.
Hier in Australië moet jy by die meeste koffiewinkels self jou bestelling by die toonbank plaas en betaal, en dan ‘n nommertjie vat en gaan sit. Óf hulle roep jou (o ja, hulle vra jou naam), óf bring jou bestelling na jou tafel toe.
Kos
Dit is te verstane dat Australië nou gereken word as die land met die vetste mense, want die porsies is enorm groot! Hulle pak rojale vulsels op toebroodjies, met elke denkbare slaaiproduk en natuurlik - beet. Ja, hierdie mense eet beet op hulle burgers en broodjies! Die broodjies is gewoonlik te groot vir een persoon en ons deel baie. Al die sentrums het groot “Food Courts” met elke denkbare wegneemeetplek langs mekaar ingeryg. Van Kentucky, McDonalds, sushi, Indies, Chinees of waarvoor jy ookal lus is. En die mense eet, hoor! Ek het natuurlik ook my gunstelinge: 'toasted banana bread'of 'toasted raisin bread' met koffie vir ontbyt. Glo my, dis nie die piesangbrood wat ons Suid-Afrikaners bak nie, hierdie is ‘n GROOT sny met gesmelte botter daarop!
Taal
Behalwe dat die kos so anders is, is daar ook die taalverskille. Ons Suid-Afrikaners kán tog Engels praat. Maar hierdie Engels is anders. Ek moet my uitspraak aanpas en mooi luister as hulle praat, veral oor die foon. Ek kan nie altyd agterkom wie dit is of wat hulle wil hê nie, maar gelukkig werk ons seun Philip vir ons. Hy is ná baie jare gewoond aan die uitspraak en hy neem maar al die oproepe wat ek nie verstaan nie. Baie van hulle woorde is Aussie 'slang' en afkortings. Hulle vat nie 'lunch' nie, maar 'smoko'; hulle groet 'How’r you going', maar wil nie regtig weet nie, en 'see ya later' sonder enige afspraak vir ‘n verdere ontmoeting! Vanmiddag is 'this avo', die orkes in die kerk is die 'muso’s'. ‘n botteltjie bier is ’n 'stubby', en 24 blikkies ‘n 'slab'. Aandete is 'tea' - daai een kon ek nog nooit verstaan nie!
Kwale
O Griet, dan is hulle almal nog mediese dokters! Hulle beskryf elke pyntjie tot en met sy mediese naam, en die verskillende opsies van sy oorsaak. Hul pyndrempel word gereken op‘n skaal van 1 tot 10 en die vlak word in detail bespreek. Ek maak elke keer die dom fout om te vra hoe dit gaan, want ek het mos goeie maniere, net om na ‘n lááááng ruk ongeskik te begin wegstap.
Rommel
Waarmee ek baie beïndruk is, is hulle 'hard waste' dae. Elke munisipale streek het ‘n ander dag waarop dit gebeur. Ry maar net deur veskillende buurtes om te weet dat dit weer sulke tyd is. Op die sypaadjies voor die huise word al jou GROOT weggooi-items gepak. Dit kan wissel van ou televisies, yskaste, beddens, fietse, banke - enigiets wat jy nie meer wil hê nie. Alle items wat nie in jou asblik pas nie. ‘n Mens kan maklik jou hele huis meubileer met goed wat jy kan optel op die sypaadjies! Dit lê gewoonlik so ‘n paar dae daar voor die munisipaliteit dit kom wegry. Dan hou die mense ook baie 'garage sales'. Dit word groot geadverteer op die lamppale in die straat, met die tyd en adres. Daar kan jy weer die mooiste goed goedkoop koop, hoewel daar ook baie gemors kan wees. Ons oudste seun het al die interessanste en oulikste goed so gekoop. Ek het al egte silwerware gekoop, gewoonlik van oumense wat trek. En spotgoedkoop!
Hier is ook groot 'Op Shops' en 'Salvos'-winkels waarheen jy al jou weggeegoed neem, soos ou klere, kombuisgoed en enige huisware. Daar word dit baie goedkoop verkoop. Dis die skoonste, netjiesste winkels met rye en rye klere en rakke vol kombuisware. Die winkels behoort aan liefdadigheidsorganisasies en baie mense koop daar.
O ja, ek het toe ge-'skydive' en hierdie pragtige stad en buitewyke tot by die wingerde (ja, die wyn is so-so) vanaf 10 000 voet beskou! Dit was ‘n fantastiese ondervinding. Daar het nou ‘n 'bemagtiging'oor my gekom wat my laat kans sien vir enige iets in die wêreld - ek meen, ek spring uit vliegtuie uit - wat kan erger wees? (Ek vertel natuurlik nie vir almal van my ore wat eers na twee weke weer ordentlik kon hoor nie...)
Nou ja - see ya later!
In Australië kan jy dit gelukkig tref en ‘n vertrek of twee gratis van die straat af meubileer.