GEORGE NUUS - 'n Wyksraadslid van George, Peter Louw (60), vra die gemeenskap om nie diegene te veroordeel wat positief getoets word vir Covid-19 nie.
Louw het sowat 'n week gelede positief getoets en intussen het sy dogter, Candacé Geswindt (34) en sy seun Anzo Louw (28), ook simptome van die virus begin toon. Hulle isoleer tans saam met hul pa tuis in Le Vallia.
"Mense hoop dit sal hulle nie raak nie, en dis 'n groot gevaar," het Louw gesê. "'n Mens hoef nie bevrees te wees nie, maar jy moet versigtig wees. Handhaaf maar daai 1,5 m afstand, dra jou masker en was jou hande gereeld. En baie belangrik, moenie dié veroordeel wat wel die virus opdoen nie."
Louw het gesê hy het self al hierdie reëls nagekom. "Ek het by die huis gebly, ek het 'n masker gedra en my hande gewas, maar tog het die virus my gekry. Die virus laat hom nie voorskryf deur 'n woonarea of 'n leefstyl nie. Hy steek alle grense oor," het hy gesê.
Beide sy seun en dogter het hul smaak en reuk verloor, terwyl hy self gesukkel het met 'n droë hoes, hoofpyne en slym op sy bors. Hy het ook effens moeilik asem gehaal.
"Ek is 'n diabeet en is al sestig jaar oud. Dis dalk hoekom ek die virus opgedoen het," het hy gesê. In hul huishouding woon sy skoonseun saam met hulle en moet hulle dus baie streng isoleer sodat hy nie blootgestel word nie.
"My dogter sien om na ons, sy is amper die verpleegster en die huishulp in die huis. Ons het steeds ons maskers op, vee die handvatsels af en isoleer in ons kamers," het Louw gesê.
Anzo Louw, Candacé Geswindt en Peter Louw in beter dae voor hulle persoonlike ervaring met die Covid-19-virusinfeksie. Foto: verskaf
Louw het 10 Julie agtergekom hy voel nie lekker nie en het drie dae later 'n dokter besoek. Binne 24 uur het sy toets teruggekom met die positiewe resultaat. Louw het nooit enige tekens van koors ondervind nie.
"Mense dink as hulle nie koors het nie is hulle oukei en makeer niks nie. Wanneer jy dan rondloop steek jy soveel mense aan," het Louw gesê.
Hy is van mening hy het dit moontlik van 'n winkelwaentjie gekry, omdat hy slegs die huis verlaat het wanneer hy gaan inkopies doen het. Intussen neem hy vitamiene en sy "ouma en oupa se medisyne", soos wildeals, gemmer, heuning en suurlemoen, om sy gestel te versterk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'