GEORGE NUUS - Baie van George se oudinwoners sal Willem Zeelie, of soos almal hom geken het as Chief, goed onthou. Hy is verlede Woensdag, 14 Desember, tydens 'n intieme geleentheid vir familie en vriende begrawe.
Zeelie is op 7 Desember in die ouderdom van 88 jaar oorlede. Sy een dogter, Marietjie Botha, het Maandag 19 Desember gesê baie van die inwoners sal haar pa onthou as die areabestuurder van Southern Cape Passenger Transport in die vroeë sewentigs.
Hy was vir byna 15 jaar betrokke by die busmaatskappy in die Suid-Kaap en daarna was hy hoof van Mossgas-bouprojek se vervoerafdeling.
"Hy was beslis 'n legende, lief vir mense en 'n polisiereservis vir baie jare."
Sy het haar pa beskryf as 'n ware heer en hy was altyd netjies geklee. Selfs al het hy net 'n brood gaan koop, het hy 'n das gedra.
"Hy het 'n omgeehart gehad. Waar hy ook al gekom het, het hy geselsies met mense aangeknoop.
"Selfs al was dit met vreemdelinge. Hy was vriendelik. Die familie gaan hom mis. My pa was 'n hartsmens."
Zeelie word oorleef deur sy vrou, Susie, twee dogters, kleinkinders en agterklein-kinders.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'