Gallery Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Die Wesso's, Lee-Roy, Emannuel en Shu-Shane is Maandagaand met 'n klein konsert in George verwelkom. Die groep het naam gemaak op die Maak My Famous-verhoog waar hulle baie geleer het en sien uit daarna om daarop voort te bou.
'n Groepie mans, onder wie Leroy Wesso, Darryl Coeries, Mervin Olivier en Moses Williams het hard gewerk om die groep se verwelkomingskonsert te organiseer.
Die groep was oorweldig met al die liefde en ondersteuning van die gemeenskap van Borcherds asook almal wat daar was. Hulle is deur plaaslike talent ondersteun wat voor hulle die verhoog geopen het. Dit was ook die ideale geleentheid om lig te skyn op al die goeie plaaslike talent soos MusiSean, Johnty Martin, Jason Mars en Die Outjie wat sukkel om naam te maak omdat daar baie min of geen ondersteuning is nie.
Fotogalery: Wesso's gee klein konsert op George
Williams wat as seremoniemeester opgetree het, sê sy hart is in stukkies oor wat tans in George aan die gang is ten opsigte van die ontwikkeling van plaaslike talent en kunstenaars. "Ons talentvolle jong mans en vroue gaan ten gronde in ons gemeenskappe. Ons talente sterf, want daar is nie 'n platform of enige ondersteuning nie."
Kyk 'n video hieronder:
Hy meen nie almal het altyd die kapitaal en die bronne om dinge self te laat gebeur nie en dis waar die mense wat kan help, op die oomblik faal. "Ek het my sukses van die afgelope drie jaar te danke aan die gemeenskap." Ook die Wesso's meen hier moet meer ondersteuning vir plaaslike talent wees. Hulle sê die program en al die mentors in die Kaap het hulle geleer om onder druk te werk, om die sakekant van musiek te verstaan, van jou bronne gebruik te maak en om hul liedjies te registreer.
Emannuel sê voorheen het hulle oral waar die geleentheid was van hul eie liedjies gesing en dis deur ander sangers en groepe gesing en oorgevat omdat hulle geen bewyse gehad het dat dit hul eie was nie.
"So vir eers gaan ons net covers doen tot al ons eie liedjies geregistreer is," sê die groep.
Williams en die ander organiseerders sê die Wesso's, Gideon Lottering en nog baie ander plaaslike talent kan doen met ondersteuning van organisasies, insluitend die plaaslike munisipaliteite, sodat hulle kan aansoek doen vir finansiële ondersteuning om hul musiek te kan opneem.
Die kinders kon nie wag om die groep asook ander plaasike talent te sien optree nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'