TUINROETE NUUS - Die South African Water Warriors het in September 'n groot voorraad voer, drinkwater en kos vir 150 droogtegeteisterde boere in die Gamoep/Springbok-omgewing in die Noord-Kaap geneem waar uiterste nood heers.
Hulle fondse is nou getap, maar hulle beplan reeds weer 'n uitreik op 31 Oktober na Wolwefontein in die Oos-Kaap waar die situasie ook hartverskeurend is.
"Ons hoop om met die ondersteuning en donasies van die publiek ook twee ander landbougebiede rondom Wolwefontein te kan help. Ons vra dus dat mense weer hul harte en hande sal oopmaak om die boere in nood te help," sê Pieter du Plessis, een van die Water Warriors-koördineerders.
Volgens Du Plessis was voertuie en vrywilligers vanuit George en die Suid-Kaap deel van die uitreik na Gamoep waar hulle diep getref is deur die nood.
"Vyf boere en nege gesinne van Nieuwoudtville het ook aangery na Gamoep om voorrade te kry. Daar is 'n tannie en oom wat so 80 km van Springbok af woon wat weekliks met slegs 25 liter vars water moet oorleef. Dis al wat hulle kan bekostig. Die boorgatwater in daardie areas is verskriklik brak met so 'n hoë soutinhoud dat dit glad nie gebruik kan word nie.
"Ons besef nie die waarde van water nie. Hoeveel keer op 'n dag spoel ons 'n toilet met liters en liters vars water af."
In die Wolwefontein-omgewing is daar hartverskeurende tonele.
Die Wolwedans-omgewing is die volgende droogtegeteisterde gebied waarheen die South African Water Warriors op 31 Oktober 'n besending water, voer en kosvoorrade neem.
Du Plessis sê plase in daardie omgewing is gemiddeld 40 km van mekaar af met geen selfoonopvangs nie. "Mense daar leef deur geloof."
Een van die vele dankie-sê boodskappe wat die Water Warriors van die boere ontvang het, lees: "... Soveel liefde en omgee, soveel eerlikheid, soveel ruimhartigheid. Ek ken dit nie. Wat ek die laaste paar jaar doen, is oorlewing. Wat ek gister beleef het, was liefde. Julle is elkeen 'n engel ..."
Du Plessis het gesê hierdie hulp is onmoontlik sonder Water Warriors se getroue vrywilligers en die absolute vrygewigheid van die publiek en besighede in die Suid-Kaap.
"Baie dankie aan ieder en 'n elk wat bygedra en gehelp het. Ook dankie aan die motorfietsryers van klubs vanoor die hele streek wat 'n ruk gelede donasies gegee het tydens 'n gesamentlike motorfietsrit."
Besoek SA Water Warriors se Facebook-blad vir inligting oor hoe om 'n skenking te maak of bel Pieter du Plessis by 076 844 6435.
Voorrade wat na die Gamoep-omgewing geneem is, het gesorg vir verligting en baie dankbare harte.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'