GEORGE NUUS - Die tekort aan water was beslis nie 'n probleem tydens die onlangse brand in Rosedale nie.
Volgens die munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, is die bewering dat daar nie water in een van die voertuie was nie, onwaar.
Van die inwoners van Rosedale-plakkerskamp wat hul strukture in die brand op Sondag 8 September verloor het, het aangevoer dat die geweld wat kop uitgesteek het te wyte was aan 'n voertuig wat sonder water op die toneel aangekom het.
Inwoners se gemoedere was glo hoog. Openbare geweld het kop uitgesteek en pogings van die brandbestryders om hul taak uit te voer, is belemmer.
Volgens Edwards-Klose was altesaam vyf brandweervoertuie op die toneel.
"Die reaksietyd was vyf minute, vanaf die tyd wat die brand aangemeld is," het sy gesê. "Die vlamme is binne 15 minute onder beheer gebring." Die windspoed en hitte het meegebring dat die afkoelproses teen 15:00 voltooi was.
Sy het gesê die neiging dat die publiek op 'n toneel aggressief raak teenoor nooddienspersoneel word dwarsdeur Suid-Afrika opgemerk.
"Tesame met die onnodige vandalisme van toerusting, word die optrede sterk veroordeel.
"Dit is noodsaaklik dat die kundiges toegelaat word om hul pligte tydens krisissituasies uit te voer," het sy gesê.
Nuwe blyplek
Al die families wat deur die brand geraak is het noodbehuising ontvang op die grond waar hulle vroeër gewoon het.
Ofskoon van die slagoffers onwettig op die grond gebly het, is hierdie uitdaging oorbrug. Volgens Edwards-Klose is daar ooreengekom dat hulle wel op dieselfde plek kan aanbly.
Filda Martin en haar gesin was Dinsdagmiddag die laaste van die slagoffers wat in hul nuwe woning ingetrek het. Martin bedank die hele gemeenskap vir hul ondersteuning deur hierdie moeilike tyd.
Die munisipaliteit het al die families wie se strukture afgebrand het as noodmaatreël in die Rosedale-gemeenskapsaal gehuisves. 'n Departementele funksie wat verlede Vrydag in die saal moes plaasvind het vrees laat ontstaan dat slagoffers op straat gaan sit. Edwards-Klose het bevestig alternatiewe reëlings sou gemaak word indien die noodbehuising nie betyds voltooi is nie.
Lees 'n verwante artikel: Rosedale-brand saai verwoesting
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'