GEORGE NUUS - Haweloses word soms net langs die pad gesien en af en toe dalk 'n paar sente of 'n broodjie gegee. Maar nou gaan 'n paar gelukkige manne en vroue lekker warm handgemaakte baadjies kry.
André Olivier van Cremhog, 'n organisasie wat daagliks met haweloses werk, sê hulle het 50 mense geïdentifiseer met wie hulle daagliks in kontak is om die baadjies te kry.
Olivier sê hulle het die nood raakgesien omdat daar nie altyd voldoende warm klere is nie. "Ons kry baie keer donasies van klere, maar dis of te groot of te klein." Hy sê hulle het toe met Surika Louw kontak gemaak.
Louw sê sy het 'n paar vriendinne gekontak op wie se knoppie sy altyd kan druk, hulle het nog vriendinne gevra en so het hulle in drie weke 50 baadjies gemaak. Sy vertel dit was 'n storm met al die uitknip werk, die uitlê van die patroon en die vaswerk, maar elkeen het gedoen wat hulle kon.
"Ek sou dit graag in twee weke se tyd wou doen, maar dit het drie weke geneem. Ek is baie trots en dankbaar teenoor elkeen van die vroue wat ons so mooi gehelp het."
Olivier sê hulle sal graag die haweloses verantwoordelikheid wil aanleer en met die gee van die baadjies, hoop hy dit sal ander aanspoor om ook meer verantwoordelik te wees.
Hoe hulle die 50 geïdentifiseer het, vertel Olivier, was deur elkeen 'n plastiese bewys (token) gedurende die grendeltyd te gee. "Die persoon wat die bewys toon elke keer as hulle kos kom haal, sal voorkeur kry. Dit was die begin."
Elke baadjie is besonders, dit het of die persoon se naam of Cremhog op, en is van sagte fleece-materiaal gemaak. Die baadjies, wat snoesig warm is met 'n kappie, sou al die week aan van die lede uitgedeel word.
Olivier het gesê hy gaan kyk hoe lank die baadjies gedra word, wat van dit word en dalk om dit weer netjies skoon te was en terug te besorg aan die persoon.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'