GEORGE NUUS - Danksy 'n bydrae van die Vryburger-beweging se George- korps is daar nou meer geld beskikbaar vir die restourasie en beveiliging van die historiese tolhuis in die Montagupas.
'n Tjek ter waarde van R6 000 is op 30 September deur die organisasie aan Gerda Stols, voorsitter van Vriende van die Tolhuis en bestuurder van die restourasie-projek oorhandig.
Die tolhuis het tydens die vernietigende wegholveldbrande van Oktober 2018 in die slag gebly en word tans deur die Vriende van die Tolhuis gerestoureer. Die geld vir die projek is ingesamel deurdat die George Vryburgers tesame met die Outeniqua Harriers wat vroeër vanjaar 'n pretdraf aangebied met die doel om geld in te samel vir die tolhuis se boufonds.
"Die tolhuis 'n geskikte kultuurhistoriese erfenis en lê die George-gemeenskap en die Vryburgers na aan die hart," het Marius Venter, die stuurman (voorsitter) van die George Vryburgers gesê.
"Die Vryburgers is 'n nie-politiese diensorganisasie wat hulle beywer vir die maatskaplike ontwikkeling van die gemeenskap en terselfdertyd ook die bevordering van die Afrikaanse kultuur en tradisies en juis daarom is die tolhuis geïdentifiseer as 'n geskikte projek om te finansier," het Venter gesê.
Van die beweging se ander projekte sluit die nasionale Kos-vir-Kinders-projek in waarby skole gefinansier word om vir behoeftige skoolkinders iets te ete en drinke te bied.
Ander nasionale projekte sluit in Woordverspreiding (waar audio-Bybels versprei word) en die Tamaaibraai (waar daar landswyd by ouetehuise vir die inwoners gebraai word).
Vir meer inligting oor die Vryburger Omgeemense, besoek gerus www.vryburgers.co.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'