GEORGE NUUS - Eers was dit haar kantoor, maar nou is dit ook haar slaapkamer. Dit is een van die aanpassings wat Alani Voigt, sentrumhoof van Tuiniqua-versorgingsentrum, gemaak het sedert die algehele inperking verlede week inwerking getree het.
'n Paar uur voor die inperking inwerking getree het, is van haar kantoormeubels uitgedra om plek te maak vir 'n bed. Soggens staan sy op en volg 'n bepaalde roetine net soos by die huis. Die enigste verskil is dat sy nie hoef werk toe te ry nie.
"Dit is 'n groot aanpassing en ja dit voel by tye vreemd om in jou eie kantoor te slaap. Ek gee egter nie om nie want ek wil naby die inwoners wees om te help dat hulle gemoedsrus het. Ek kan dit doen want my dogter Anet-Mari is by die huis en sy kyk na my honde.”
Van haar ander kollegas het ook tydelik daar ingetrek en sy waardeer dit baie.
Van die inwoners het moue opgerol en sny byvoorbeeld die gras en doen algemene instandhouding.
Alani Voigt, sentrumhoof van Tuiniqua-versorgingsentrum, in haar kantoor wat nou ook haar slaapkamer is. Foto: Eugene Gunning
Volgens haar hanteer inwoners die inperking in die algemeen goed. Tuiniqua was goed voorbereid want 'n paar dae voor die inperking, het die bestuur self stappe geneem. Inwoners kon van toe reeds net in uitsonderlike gevalle die perseel verlaat en hulle mag nie besoekers ontvang nie.
Sy het gesê inwoners met dimensie beleef die situasie moeilik omdat hulle nie begrip het wat werklik aan die gang is nie. Hulle is onseker en dit veroorsaak vrees. Alles is egter onder beheer.
Voigt het net lof gehad vir haar kollegas. "Die span is soos 'n familie."
Inwoners van Tuiniqua-versorgingsentrum help nou sommer self met instandhouding.
Haar advies vir mense in soortgelyke situasies is om tuis te bly, sodat die opofferings wat noodsaaklike werkers maak die moeite werd is.
Vir inwoners in soortgelyke instansies raai sy aan om baie aandag te gee aan emosionele welstand en mekaar te ondersteun. Families help baie deur oproepe te maak en video-oproepe veral is baie gerusstellend.
Inwoners van Tuiniqua-versorgingsentrum help nou sommer self met instandhouding.
Vorige artikel: Tuiniqua Care Centre under lockdown
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'