GEORGE NUUS - 'n Vrou van Rosemoor, wat van behuisingsbedrog verdink word, Nicolene Booysen (37), is op Donderdag 16 Februarie by haar huis deur die Kommersiële-misdaadeenheid in hegtenis geneem.
Die arrestasie hou glo verband met voorvalle van beweerde bedrog wat in 2020 plaasgevind het. Sy staar 'n klag van bedrog in die gesig ná sy glo 'n voornemende koper met sowat R150 000 ingedoen het.
Volgens die koper het Booysen haarself as 'n eiendomsagent voorgedoen en glo daarin geslaag om nie net vir haar nie, maar ook 'n aantal ander mense te mislei deurdat hulle by haar huise gekoop, of deposito's betaal het vir huise wat nie aan haar behoort het nie, en waarvoor sy ook nie magtiging het om te verkoop nie.
In die stadium word Booysen slegs op een klagte voor die hof gebring, maar nog klagtes gaan heel moontlik later bygevoeg word.
Volgens inligting sou kopers betaal en dan sou sy hulle vermy en met die geld verdwyn.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het in 2021 bevestig dat vier sake van bedrog by die Conville-polisiestasie teen haar aanhangig gemaak is. Volgens inligting is daarna nog bygevoeg.
'n Bron het aan George Herald genoem dat Booysen glo in die verlede 'n internskap by 'n plaaslike eiendomsagent gedoen het, maar sy is gevra om te gaan ná ongerymdhede opgemerk is. Daarna het sy glo voortgegaan om onwettig 'n ander eiendomsagent se briefhoof in haar dokumentasie te gebruik.
Die betrokke agent was nie hiervan bewus nie.
Booysen het op Vrydag 17 Februarie in die George-landdroshof verskyn waar sy op borgtog van R6 000 vrygelaat is. Die saak is tot 9 Maart uitgestel vir verdere ondersoek.
Booysen word deur Clayton Samson van Jansen & Samson Attorneys, verteenwoordig. Die saak dien voor landdros Thiloshnie Govender en Farren Lindoor is vir die staat.
Slagoffer vertel
"Ons sou in Maart 2020 'n huis by haar koop, maar sy wou nooit gehad het ons moet na die huis gaan kyk nie. Ons kon slegs daar verbyry. Sy was egter só oortuigend en sjarmant, dat ons haar baie geld vooruit vir die huis betaal het. Tot vandag toe het ons nie 'n huis of 'n kontrak nie," vertel die slagoffer wat verkies om anoniem te bly.
"Sy doen haar voor as 'n eiendomsagent wat huise names ander koop en verkoop. Intussen is sy niks meer as 'n swendelaar wat mense soos ek se laaste geld vat en loop nie. Dit gaan nie net oor die geld wat ons verloor het nie, maar die drome. Drome om vir ons kinders eendag 'n huis na te laat," sê die slagoffer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'