GEORGE NUUS - Die helfte van die finansiële jaar is byna agter die rug, maar twee direktorate in die munisipaliteit, elektrotegniese dienste en siviele ingenieursdienste, het onderskeidelik nog net 15% en 10,8% van hul kapitaalbegrotings bestee.
Dit het Woensdag aan die lig gekom toe Melvin Naik sy maandelikse burgemeestersrede gelewer het.
Naik het gesê die besteding van 15% op die kapitaalbegroting van elektrotegniese dienste is 'n klein bietjie agter die beplande dienslewering en begrotingsimplementeringsplan.
As dit met die vorige jaar vergelyk word, is die situasie vanjaar aansienlik beter. In die ooreenstemmende tyd verlede jaar was net 3% bestee.
Hy het ook bekend gemaak dat die Thembalethu/Glenwood 66kV-kraglyn voltooiing nader.
Dit sal in die toekoms help om grootmaat elektrisiteitstoevoer aan Thembalethu te verseker.
Oor die 10,8% besteding op die kapitaalbegroting van die direktoraat siviele ingenieursdienste, het Naik gesê projekte vorder goed. Daar is beplan om R74 miljoen uit 'n begroting van R332 miljoen te bestee, maar tot dusver is net R38,5 miljoen bestee.
Die onderbesteding kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die laer as verwagte besteding by die Outeniqua Watersuiweringswerke-siviele projek. Dit het 'n impak op die aanvang van die meganiese projek.
Nog ' n beduidende terrein van onderbesteding is die paaie-opgraderingsprojek waar duidelikheid oor Vuk'upile nog hangende is.
Dit behoort voor die vakansietyd opgelos te wees.
Naik het ook bekend gemaak dat die kontrakteur van die Nelson Mandela Boulevard-projek ingelig is dat sy dienste beëindig kan word oor 'n moontlike verbreking van kontrakvoorwaardes.
Die kontrakteur het tot die einde van die maand tyd om sy kant van die saak te stel.
'n Finale besluit oor die moontlike beëindiging van die kontrak, sal dan geneem word.
Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, het by navraag aan die George Herald gesê hy wil sien dat geld bestee word. Dit kan help om agterstande uit te wis.
Dit is wel belangrik om sulke situasies in perspektief te sien.
"Die vraag is wat is 'n munisipaliteit se bestedingspatroon teenoor sy beplanning." Munisipaliteite behoort hul bestedingspatrone beskikbaar te stel.
ANC hoofsweep, Nomawethu Jantjies, het haar kommer oor die Nelson Mandela Boulevard-projek uitgespreek. Sy is baie bekommerd dat die pad nie geskik gaan wees om die GO GEORGE-busdiens volgende jaar in Maart te akkomodeer nie.
Hy het begrip dat geld nie altyd dadelik bestee kan word nie.
"In enige groot kontrak kan dinge skeef loop."
Geld wat deur die nasionale en provinsiale regeringsfere aan 'n munisipaliteit bewillig is, kan weggevat word.
Die provinsiale tesourie moniteer die begrotings van munisipaliteite. Van die provinsie se kant word hard gedruk dat geld bestee word.
MAYORAL ADDRESS COUNCIL MEETING 28 NOVEMBER
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'