GEORGE NUUS - Sommer met die intrapslag tydens vanjaar se eerste raadsvergadering van die George-raad het die opposisie kapsie aangeteken teen die voortsetting van virtuele raadsvergaderings.
Die speaker van die raad, Sean Snyman, het raadslede verwys na die Covid-19-regulasies en gesê dat die raadsaal nie die kapasiteit het om almal te akkommodeer nie.
Sekere opposisiepartye, waaronder Good, EFF, ANC, PBI en die PA het sterk daarop aangedring dat die vergaderings moet terugkeer na die raadsaal in die munisipale gebou. "Talle probleme met internetkonneksies word ondervind," het Good-raadslid Theresa Jeyi (voorheen Fortuin), gesê.
"Dit is nie 'n geval van dat jy uit die vergadering geskop word nie, maar die kommunikasie is gebroke. Dit disconnect en gaan aan en af die hele tyd. Ons mis baie dele van die vergadering. Daar was juis 'n item wat ek graag na wou luister, wat ek gemis het," het sy gesê.
Ofskoon die hou van virtuele vergaderings nie 'n agenda-item was nie, is dit wel in die raad bespreek.
Op 'n vraag hoekom raadslede, wat met internetkonneksies sukkel nie eerder vanuit die komiteekamer in die munisipale gebou inskakel by die vergadering nie, het Jeyi gesê die konneksie daar is glo ook nie so waffers nie.
Regulasies
Die huidige Covid-19-regulasies maak slegs voorsiening vir 50% kapasiteit van 'n lokaal, het munisipale woordvoerder, Chantél Edwards, verduidelik.
"Die George-raadsaal kan dus net 50% van die raad akkommodeer. Die stadsaal is gebruik vir die inhuldiging van die raad in November 2021 en om dit te doen vir deurlopende raadsvergaderings sal onnodige uitgawes meebring in terme van klanktoerusting, en so meer.
"Raadslede ontvang 'n skootrekenaar en dongle met 50 GB data (dag) en 30 GB data (aand) per maand. Waar konnektiwiteitskwessies in sommige areas in George voorkom, rus die onus op die individu om die e-vergadering by te woon in 'n area waar konnektiwiteit voldoende is. Die administrasie kan nie konnektiwiteitskwessies namens hulle oplos nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'