GEORGE NUUS - Clive Ankiewicz het 48 jaar gelede as agtjarige 'n fiets as Kersgeskenk van sy pa ontvang, en dit sou een van sy kosbaarste besittings word.
In sy hoërskooldae het hy elke dag van hul plaas by Bapsfontein na die Hoër Tegniese Skool in Benoni en terug gery, en so baie fiks geword.
Dit was 'n afstand van 70 km soontoe en terug en oor die jare het hy duisende kilometers afgelê.
Toe hy in 1979 'n nuwe fiets aanskaf om tussen sy werk en huis te reis, het sy ou fiets ongeveer 40 000 km en sy derde stel bande op gehad.
Ankiewicz, wat in sy weermagjaar 'n oefeninstrukteur was, sê fiksheid was vir hom toe baie belangrik en sy ritte werk toe en terug het gehelp om hom fiks te hou.
Sy ou fiets dien deesdae vir hom geen doel nie en het verlede week 'n nuwe baas gekry toe hy besluit het om dit aan die eienaar van Suid-Kaap Fietse, Barry Scholtz, te skenk.
Scholtz, 'n entoesiastiese ryer, besit twee veteraanfietse wat in sy winkel uitgestal staan.
Die geskenk het bietjie restourasie nodig wat Scholtz stuk-stuk gaan aanpak.
Ankiewicz en Scholtz het mekaar leer ken terwyl eersgenoemde jafels gesmous en gereeld by die winkel aangedoen het.
"Ek het die veteraanfietse opgemerk en besef Barry sal my ou fiets waardeer en veilig bewaar," sê Ankiewicz.
Scholtz se ander twee veteraanfietse is een wat uit Holland kom wat uit die 70's dateer en wat hy by sy buurman gekoop het, en 'n rooi vrouefiets uit Japan wat 'n kennis wat by die Suid-Afrikaanse Ambassade daar gewerk het, vir hom gegee het.
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'