Gallery
GEORGE NUUS - Die haglike toestand van 'n gebou en terrein in die sentrale sakekern in George is vir die eienaars van aangrensende eiendomme en sake-ondernemings 'n reusekopseer.
Die gebou, op die hoek van Cradock- en Markstrate, staan al jare leeg. Dit was lank gelede 'n koshuis vir York High se leerders en behoort aan die Wes-Kaapse regering.
George Herald het self die terrein besoek, maar kon nie toegang tot die gebou verkry nie omdat die terrein omhein is.
Dit is egter maklik om van die straat te sien dat die gebou en terrein erg verwaarloos is en talle vensters is gebreek.
FOTOGALERY: Ou koshuis 'n kopseer
'n Aangrensende eiendom behoort aan die NG Moedergemeente. 'n Raad van trustees is die sakearm van die kerk en sien om na die kerk se eiendom.
Flip de Swardt, 'n lid van die trustees, het by navraag gesê hulle het al verskeie pogings aangewend om duidelikheid oor die toekoms van die eiendom te kry, maar sonder sukses.
Hy en Johan Venter, voorsitter van die trustees, het die terrein saam met die burgemeesterskomiteelid vir beplanning besoek.
Die trustees het al verskeie klagtes van huurders by hul eiendom ontvang en wil hê daar moet so gou moontlik iets gedoen word. Daar is onlangs gras uitgekap, maar 'n vrag hout is later daar gestort. De Swardt sê dis nie net onooglik nie, maar ook 'n brandgevaar.
Hy sê die toestand van die perseel is 'n skande. "Dis nie 'n goeie advertensie vir George se sakekern nie. Dis onaanvaarbaar. Ons kan nie verstaan dat die stadsraad van George toelaat dat 'n gebou en terrein so agteruitgaan nie."
Flip de Swardt by die ingang van die terrein in Cradockstraat.
De Swardt sê al behoort die gebou nie aan George-munisipaliteit nie, moet die munisipaliteit steeds toesien dat die eienaars dit in stand hou in ooreenstemming met munisipale verordeninge.
George-munisipaliteit het by monde van Lauren Waring, direkteur menslike nedersettings, beplanning en ontwikkeling, gesê onderhandelinge vorder goed om die gebou oor te dra na die munisipaliteit.
Die plan is om dit op te knap en te gebruik as munisipale kantore. Die munisipaliteit is bewus van die erfenisstatus van die gebou en alle werk wat gedoen word sal in ooreenstemming daarmee goedgekeur word.
Hulle beplan om die gebou te herstel en nie af te breek nie, sodat dit as bate in die stadskern behoue kan bly.
Die swak toestand van die gebou is duidelik sigbaar. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'