GEORGE NUUS - Vertraging met betrekking tot DNS-toetse in die polisie se forensiese wetenskaplaboratorium kan moontlik tot gevolg hê dat sewe verdagtes wat van verkragting en roof verdink word, binnekort vrygelaat word.
Indien die uitslae nie teen die volgende hofdatum, 7 Oktober, beskikbaar is nie, en landdros Clifton Maseti nie weer uitstel gee nie, bestaan die moontlikheid dat die saak voorlopig van die hofrol geskrap sal word in afwagting van die DNS-uitslae.
Al die verdagtes kan dan moontlik vrygelaat word tot die saak weer op die rol geplaas word.
Die verdagtes het na bewering 'n tienermeisie (17) van Parkdene op Sondag 12 Augustus 2018 ontvoer en om die beurt verkrag ná 'n huisroof.
Die oponthoud van die DNS-uitslae word glo deur die destydse tekort aan Buccal-deppers (Buccal swabs) toegeskryf. Dié toerusting word na 'n verkragting deur die polisie gebruik om DNS aan die binnekant van 'n persoon se wang te versamel. Weens die tekort aan Buccal-deppers was die polisie genoop om ander toerusting, wat bloedmonsters versamel, te gebruik om DNS te bekom.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, Kapt Malcolm Pojie, is die laboratoriumproses om DNS van die Buccal-deppers te verkry vinniger as dié waar bloedmonsters ter sprake is en dis dié proses wat die vertraging veroorsaak.
Staatsaanklaer Reinet de Waal het Maandagoggend, 9 September, in die Thembalethu-streekhof genoem dat die DNS-uitslae al is wat verhoed dat die saak op verhoor kan gaan.
Die verdagtes se bloedmonsters is glo reeds maande gelede na die laboratorium in Plattekloof, Kaapstad, vir ontleding gestuur. Die staat wag steeds vir die uitslae en kon nie Maandag aan die hof sê wanneer die uitslae verwag kan word nie.
Die voorval
Die slagoffer was glo saam met vriende en familie by 'n huis in New Dawnpark toe die mans binnegestorm het. Hulle het haar gegryp asook selfone, skootrekenaars en klerasie. Die rowers het toe deur die bosse oor die Schaapkoprivier met haar geloop tot in Thembalethu waar sy na bewering verkrag is.
Sy het later die oggend weer te voet by die huis aangekom nadat sy vrygelaat is.
Vyf van die sewe verdagtes, almal tussen 19 en 25 jaar oud, wat kort ná die beweerde groepsverkragting in hegtenis geneem was, is steeds in aanhouding. Twee is vrygelaat op borgtog. Die ander se borgtogaansoeke was onsuksesvol. Die eerste vyf verdagtes is kort na die voorval in hegtenis geneem. Die ander twee is in Mei vanjaar vasgetrek.
Nuwe getuienis
Daar het ook onlangs nuwe getuienis rakende een van die verdagtes se DNS-uitslae aan die lig gekom. Die saak is uitgestel tot 7 Oktober vir dié verdagte se regsverteenwoordiger om met hom te konsulteer en in afwagting van die DNS-uitslae van die ander verdagtes.
Bonaice Scheel, Gerald Camphor en Johan Visser is vir die verdediging.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'