GEORGE NUUS - Ná 'n wilde jaagtog deur die middedorp, staar 'n taxibestuurder aanklagte van onder andere roekelose en nalagtige bestuur, regsverydeling en verset teen arrestasie in die gesig. Hy het weggejaag toe provinsiale verkeersbeamptes hom probeer stop het.
Die voorval het op 6 Augustus in die middedorp plaasgevind.
Volgens George se provinsiale verkeershoof, Quinton Williams, is die taxi deur die verkeersbeamptes agternagesit toe hy versuim het om te stop.
Ná 'n woeste jaagtog het die taxi uiteindelik by die taxistaanplek in Cradockstraat tot stilstand gekom.
"Ons besoek daagliks skole om aandag aan leerdervervoer te gee. Tydens dié insident het verkeersbeamptes die taxi, waarin leerders van PW Botha Kollege vervoer is, probeer stop om te kyk of die voertuig en bestuurder voldoen aan wetlike vereistes," sê Williams.
"Tydens die jaagtog het die bestuurder telkemale versuim om by rooi verkeersligte te stop. Toe hy eindelik tot stilstand kom, het 'n groep mans, na bewering taxibestuurders en -eienaars, om die verkeersbeamptes en polisielede op die toneel saamgedrom om hulle te intimideer," sê hy.
Die sake word tans deur die George-speurdiens ondersoek.
Teen druktyd kon die polisie nog nie meer inligting rondom die taxibestuurder se arrestasie bevestig nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'