Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die ou munisipale toetsstasie vir voertuie by die George-verkeersdepartement, aan die onderpunt van Hiberniastraat, lyk soos 'n splinternuwe sikspens nadat dit vir bykans 'n dekade onbenut was. Dié toetsstasie is vandeesweek amptelik heropen en sal kliënte vanaf eerskomende Maandag bedien.
Die toetsstasie is in 2009 gesluit na beweerde korrupsie by die fasiliteit. Die bewerings is aangespreek, maar die stasie is nooit heropen nie.
George-verkeershoof, Donovan Saptoe, is met rede trots op die aanwins vir die dorp.
Dit is die enigste munisipale toetsstasie wat spog met 'n apparaat wat voertuie se uitlaatgasse opsuig onderwyl 'n inspeksie uitgevoer word. "Gevorderde elektroniese toerusting sal beamptes in staat stel om 'n eersteklas diens te lewer, teen 'n baie goeie prys," het Saptoe gesê.
'n Aansoek vir 'n padwaardigheidsertifikaat vir 'n voertuig onder 3 500 kg sal die padgebruiker R135 kos.
Die gedenkplaat word onthul, van links is: George-verkeershoof, Donovan Saptoe, raadslid Cecil Noble, burgemeester, Melvin Naik, provinsiale verkeershoof, Kenny Africa, en die publieke vervoer oorsigbeampte, Lee-Ann Meiring. Foto's: Michelle Pienaar
Die provinsiale verkeershoof, Kenny Africa, het Maandag tydens die heropeningseremonie gesê mense moet weer soos in die verlede bang wees as hulle met onpadwaardige voertuie deur George ry. "Ry sonder nommerplate, dan haal ons jou voertuig van die pad af," het hy gesê. Volgens Africa bied die toetsstasie ook 'n gulde geleentheid om voertuie vir dwelms te deursoek. "Die toetsstasie is meerdoelig. Ons wil ook graag die gedragspatroon van motoriste verander.
Bykans 80% van alle ongelukke is weens motoriste se gedrag op die pad," het Africa gesê.
George-burgemeester, Melvin Naik, het gesê die tydsduur wat dit geneem het om die toetsstasie op te knap het hom gefrustreer, maar hy is baie trots op die resultaat. Na die verkiesing in 2016 het Naik 'n beroep op die raad gedoen om die proses te begin om die toetsstasie te heropen.
Nuwe wetgewing het tot gevolg gehad dat die vereistes vir munisipale voertuigtoetsfasiliteite verander het en die opgraderings by die stasie het langer geneem as verwag.
Die toetsstasie is oop van Maandag tot Vrydag van 08:00 tot 15:00. Vir navrae kontak 044 878 2400.
Kyk 'n video hieronder.
Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus