GEORGE NUUS - 'n Onderonsie tussen 'n lid van die George CBD Watch, 'n buurtwaggroep vir die middedorp, en 'n munisipale verkeersbeampte, het 'n lelike nadraai gehad toe die man glo met 'n kapmes gedreig is en self 'n hokkiestok moes uitpluk om die verkeersbeampte af te weer.
Die beampte was nie aan diens tydens die voorval nie.
Volgens die slagoffer het die voorval in Foundrystraat in die nywerheidsgebied plaasgevind. Ná 'n onderonsie en 'n vieslike woordewisseling tussen hom en die verkeersbeampte, moes die man homself glo met 'n hokkiestok probeer beskerm terwyl die verkeersbeampte hom glo met 'n kapmes gedreig het.
Die polisie is ontbied en met hul aankoms is die verkeersbeampte in hegtenis geneem.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoer-der, kapt. Malcolm Pojie, is 'n saak van aanranding by George-polisiestasie gemaak na aanleiding van die voorval.
"Dit word beweer dat die klaer deur die afdiens verkeersbeampte woorde toegesnou is toe die beampte verby hom in Laingstraat gery het. Die klaer het blykbaar die verdagte agterna gesit en in Foundrystraat was daar 'n woordewisseling waarna die verdagte na bewering 'n kapmes uitgehaal het en die klaer gedreig het.
Tydens die voorval het die klaer geringe beserings opgedoen. Die verdagte het ook die volgende dag 'n teensaak gemaak," sê Pojie.
Beide sake sal binnekort aan die senior staatsaanklaer voorgelê word vir beslissing. Niemand het nog in die hof verskyn nie.
Die slagoffer het ligte beserings aan sy hand opgedoen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'