Update
GEORGE NUUS - Die verhoor van twee moordverdagtes wat daarvan aangekla word dat hulle in 2020 die 22-jarige Chané Manuel beroof, verkrag en vermoor het, het dié week in die rondgaande hooggeregshof in George voortgegaan.
Ruwaden Bruiners (26) en Johnick Kleinbooi (21) is op 17 September 2020, kort ná die voorval, in Thembalethu vasgetrek. Albei word aangekla van roof, verkragting en moord, en is sedert hul inhegtenisname in aanhouding.
Liggaam gevind
George-polisie het Manuel se liggaam omstreeks 02:30 op 17 September 2020 langs die treinspoor agter Buco in die industriële gebied in Nelson Mandela-boulevard, gevind.
Sy was geklee in 'n pienk broek en wit T-hemp. Sy is na bewering verkrag en daarna verwurg.
In die hof
Albei beskuldigdes het aanvanklik onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hulle. Bruiners het egter sy pleit verander en pleit skuldig op poging tot roof. Op dié van moord en verkragting pleit hy steeds onskuldig.
Tydens kruisverhoor Maandag-oggend, 15 Mei, het Bruiners gesê sy intensie was nie om Manuel dood te maak nie en dat hy eers die Donderdagoggend van sy inhegtenisname uitgevind het dat sy dood is.
Hy het erken dat hy haar wou beroof vir dwelmgeld en dat hy haar met sy arm gewurg het om te verhoed dat sy geraas maak.
Volgens Bruiners dra hy geen kennis van enige seksuele oortreding nie.
Kleinbooi sê hy het Bruiners se instruksies gevolg omdat hy bang was vir hom. Hy het in die hof gesê dat hy nie met Bruiners saamgesweer het om Manuel seer te maak nie. "Ek was bang vir no.1 [Bruiners] daarom het ek gedoen soos hy vir my gesê het," sê Kleinbooi in 'n bekentenis wat in die hof afgelê is.
Die ontmoeting
Die hof het gehoor dat die oorledene en die beskuldigdes op Donderdag 16 September 2020 naby die taxistaanplek in Cathedralstraat in die middedorp ontmoet het en tik en Mandrax gerook het.
Ná die ontmoeting in Cathedralstraat het hulle glo nie weer vir Manuel gesien totdat hulle haar weer op pad huis toe, op die Albertstraatbrug raakgeloop het nie.
"Ek en my medebeskuldigde het van George na my huis in Borcherds gestap. Ons het Mandrax en tik by die taxistaanplek gerook voor ons huis toe is. Ons het oor die brug by Penny Pinchers in Nelson Mandela-boulevard gestap waar die polisie met 'n stop-en-soek-operasie besig was," sê Bruiners in 'n verklaring.
Volgens hom is hulle deursoek en 'n klein skêr is van hulle afgeneem voordat hulle verder geloop het. Dit is hier waar hulle weer die oorledene raakgeloop het.
"Sy is ook deur die polisie voorgekeer en is verhinder om dorp toe te gaan."
Volgens Bruiners wou Manuel teruggaan dorp toe en hulle het haar vergesel deur 'n alternatiewe roete langs die treinspoor te volg.
"Ons het verby die treinstasie gestap. Voor ons by die brug oor die spoor gekom het, het ek besluit om haar te beroof. Ek het gehoop om geld op haar te kry vir dwelms. Ons was 'n entjie verby die stasie toe ek my arm om haar nek sit en haar begin wurg het. Sy het na 'n rukkie flou geword en ek het haar op die grond langs die treinspoor laat lê. Terwyl ek haar deursoek het, het my medebeskuldigde haar hande en voete vasgebind. Ons kon geen geld kry nie," sê die verklaring.
Volgens Bruiners het Manuel wakker geword en sy wou skree, maar Kleinbooi het langs haar op die grond gaan lê en haar met sy arm gewurg.
"Ek het gesien sy beweeg nie meer nie en ek het hom op sy arm getik om te los. Ons het haar daar gelos en weggehardloop."
Manuel se liggaam is aangetref waar sy op haar maag langs die treinspoor gelê het. Haar hande was met 'n dun tou agter haar rug vasgebind, daar was 'n kous in haar mond gedruk en haar mond was met 'n dun tou gesnoer. Haar broek was tot op haar knieë afgetrek en sy was kaalvoet.
Haar voete was nie vasgebind nie.
Die saak dien voor regter Derek Wille en Lenro Badenhorst is vir die staat.
Vorige artikel: Verdagtes vas vir treinspoormoord
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’