GEORGE NUUS - George-polisie het Dinsdagmiddag, 22 September, twee mans van Thembalethu in hegtenis geneem ná 'n jong vrou se halfnaakte liggaam Donderdagoggend, 17 September, langs die treinspoor in die industriële gebied agter Buco in Nelson Mandela-boulevard, gevind is.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, Malcolm Pojie, is die 23-jarige Chané Manuel van Parkdene, se liggaam vroeër die week deur haar familie uitgeken. Sy was geklee in 'n pienk broek en wit T-hemp toe polisielede haar gevind het.
Die twee verdagtes, wat onderskeidelik 18 en 24 jaar oud is, word in die George-aanhoudingselle gehou tot hulle môre (Vrydag 25 September) in die George-landdroshof verskyn.
"Die oorledene se liggaam is verlede Donderdagoggend omstreeks 02:00 gevind ná patrollielede twee verdagte mans naby Buco vasgetrek het omdat hulle vermoedelik gesteelde goedere in hul besit gehad het. Tydens die arrestasie het die verdagtes die lede van die vrou se lyk wat langs die treinspoor gelê het, vertel," sê Pojie.
Manuel se liggaam is aangetref waar sy op haar maag gelê het. Haar hande was agter haar rug vasgebind en die moontlikheid dat sy verkrag en daarna versmoor is, word ondersoek.
Enigiemand met verdere inligting rondom die voorval word gevra om die ondersoek beampte, adjudant-offisier Jerome Malan by 044 803 4715 / 065 912 2850 of Stop Misdaad by 08600 10111, te skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'