Update
HEROLD NUUS - 'n Vrou van Herold, Annie Saptoe (45), wat daarvan verdink word dat sy haar man, Andrew Jansen (35), met 'n mes doodgesteek het, het dit volgens haar uit selfverdediging gedoen. Só sê kapt. Nolonwabu Tshengu, kommunikasiebeampte van George-polisiestasie.
Die voorval het op Sondag 3 Maart in hul woning plaasgevind. Volgens Tshengu het die verdagte en die oorledene gestry waarna die oorledene in die maag gesteek is.
"Die verdagte was na bewering besig om aartappels met 'n mes te skil toe die bakleiery ontstaan het en sy die oorledene in die maag gesteek het. Volgens haar was haar lewe in gevaar en het sy in selfverdediging opgetree," het Tshengu gesê.
Sy is in hegtenis geneem en het op Dinsdag 5 Maart haar eerste hofverskyning gemaak waarna sy op 'n waarskuwing om weer op 24 April te verskyn vrygelaat is.
Die hof sal dan besluit of hy die aanklagte teen haar gaan laat vaar al dan nie.
Die enigste ander persoon wat tydens die voorval teenwoordig was, is 'n sesjarige kind.
Lees 'n vorige artikel: Man stabbed to death in Herold
'Ons bring jou die nuutste Herold, Tuinroete nuus'