GEORGE NUUS - 'n 35-jarige man staar klagtes van dwelmbesit en roekelose en/of nalatige bestuur in die gesig ná hy verlede Donderdagoggend, 5 November homself in Beachweg, Pacaltsdorp, vasgeloop het.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is die bestuurder van 'n swart Toyota Auris kort voor 10:00 deur polisie agternagesit toe hy versuim het om te stop toe hulle hom op die N2 wou aftrek.
Die Auris is tot stilstand gedwing toe hy tydens die jaagtog met 'n Nissan-bakkie in Beachweg gebots het.
"Die Auris het 'n Nissan-bakkie in Beachweg getref toe hy besig was om van die polisie af weg te jaag. By nadere ondersoek is 'n klein hoeveelheid tik in die Auris gevind," sê Spies.
Albei bestuurders is na die hospitaal geneem. Die verdagte is later ontslaan en was geskeduleer om die volgende dag in die George-landdroshof te verskyn.
Teen druktyd was besonderhede rondom sy hofverskyning nog nie bekend nie.
Die Nissan-bakkie waarteen die Auris in Beachweg gebots het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'