GEORGE NUUS - Twee mans is in hegtenis geneem ná 'n kaping in Kanariestraat, Rosemoor, vroeg Saterdagoggend, 11 Augustus.
Volgens Conville-polisie se stasiebevelvoerder, kol. AB Kriga, is die bestuurder van 'n voertuig deur twee voetgangers geforseer om sy motor tot stilstand te bring waarna hulle agter in die motor geklim het.
'n Derde man het daarna by hulle aangesluit. Een van die verdagtes het die passasier wat in die voertuig was met 'n skroewedraaier gedreig en die bestuurder van die motor beveel om tot by Hoërskool George te ry.
By die skool het een van die verdagtes uit die motor geklim en die bestuurder uitgeruk waarna hy hom met 'n knopkierie aangerand het. Die slagoffer is van sy selfoon, skoene en beursie beroof.
Die verdagtes het te voet gevlug met gesteelde goedere ter waarde van sowat R13 000.
Twee van die verdagtes, albei in hul 20’s, is op Maandag 20 Augustus in hegtenis geneem in verband met die voorval. Hulle het Woensdag in die George-landdroshof verskyn. Die derde verdagte word steeds gesoek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'