Gallery
GEORGE NUUS - In Blanco pryk 'n inwoner van Kinkelslot met 'n nommer 5 op die heining voor sy huis, dieselfde nommer as sy buurman, wat na regte ook aanspraak maak op nommer 5, in Kinkelslot.
Na 'n besoek aan George-munisipaliteit is Richard Brink aangeraai om sy huisnommer na 7 te verander.
"Maar dit gaan nie help nie, want dan het ek net probleme met my ander buurman, nommer 7 aan my ander kant," het Brink gesê.
Dit wil voorkom of die hele slot se nommers, vanaf Brink se huis, moet verander. Dit is nou te sê indien die hoekhuis, Kinkelslot 1, sy nommer behou. Volgens die waarnemende direkteur van beplanning,
Charles Lubbe, het die eienaar van 'n hoekhuis die keuse om alternatiewe adresse te gebruik. In hierdie geval het die hoekhuis 'n opsie tussen Kinkelslot 1 of Maitlandstraat 8. Die volgende huis is nommer 3, dan nommer 5, en dan... weer nommer 5. Indien Brink sy huisnommer verander na 7, is die nommer na hom wéér 7.
Wat sê beplanning?
Volgens Lubbe het 'n amptenaar aan Brink verduidelik dat sy huisnommer nie 5 kan wees soos beweer nie, maar wel nommer 7 as die volgorde van die erwe in ag geneem word.
"Mnr. Brink is voorsien van 'n lys van adresse asook 'n lugfoto van adresse wat in volgorde is," het Lubbe gesê.
Kinkelslot in Blanco is vol 5's en 7's.
"Daar is aan mnr. Brink verduidelik dat alle erwe op 'n hoek twee fisiese adresse het aangesien die eienaar van 'n hoekhuis alternatiewe adresse kan gebruik. Mnr. Brink is gevra of die finansiële direktoraat toestemming kan gee om sy fisiese adres te verander waarop hy dit van die hand gewys het."
"Luidens rekords van stadsbeplanning is die fisiese straatnommer van erf 1741 Kinkelslot 7. Die onderverdeling van erf 1741 het reeds plaasgevind op 28 Februarie 1994. Mnr. Brink het oordrag geneem van die eiendom in 2015. Stadsbeplanning kry gereeld sulke tipe navrae. Eienaars ken soms self huisnommers toe aan huise, wat later probleme veroorsaak en duplisering van huisnommers veroorsaak."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'