Gallery
GEORGE NUUS - Meer as 10 huise in Rosedale, Pacaltsdorp, het op Saterdag 25 Februarie in die vroeë oggendure tydens beurtkrag onder vandale deurgeloop wat deur die strate beweeg en vensters uitgeslaan het.
Op plekke is huise op 'n ry getakel en vensters stukkend geslaan. 'n Inwoner vertel hulle het gholfstokke gebruik en die deure is met skerp voorwerpe gekap.
Net in Decapolisstraat het agt huise deurgeloop. Daar is ook aan deure geruk en -pluk.
Een anonieme inwoner vertel hulle het op die boonste verdieping geslaap toe hulle wakker skrik van 'n geraas. Sy het deur 'n skrefie in die gordyne geloer. Daar was 'n groep persone onder in die straat. Hulle het dreigende aanmerkings gemaak, aan die voordeur geruk en die vensters stukkend geslaan.
Die voorvalle het van ongeveer net na 03:00 begin. Inwoners kon die individue nie eien nie omdat dit te donker was. Volgens nog 'n inwoner, John Hendricks, is dit die derde of vierde keer dat so iets gebeur, en dit is altyd tydens beurtkrag.
Nog 'n anonieme inwoner sê hulle kon hoor hoe die vensters breek soos wat die groep in die straat afbeweeg het.
Een vrou het gesê sy het die Pacaltsdorp-polisiestasie vier keer gebel. Hendricks het ook die polisie ontbied, maar dié het eers na daglig opgedaag.
'n Navraag is aan die polisie se kommunikasie-eenheid gerig en kommentaar word afgewag.
Lees meer in Donderdag se uitgawe van George Herald.
Meer as 10 huise het deurgeloop onder die vandale.
Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'