Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Groep kleinboere van Pacaltsdorp se varkboerdery het die wind van voor gekry toe wetstoepassingsbeamptes van die George-munisipaliteit hul hokke Dinsdagoggend afgebreek het. Van die boere boer reeds 12 jaar op die grond.
Die boere het reeds verlede Donderdag 'n waarskuwing gekry toe beamptes die terrein besoek het. Dit volg glo na klagtes van inwoners ontvang is oor die reuk van die varkhokke. Die naaste residensiële huise is sowat 100 m van die boerdery geleë.
Kennisgewings is verlede Vrydag teen die hokke opgeplak, wat hulle van die uitsetting in kennis stel. Die kleinboere het inderhaas probeer planne maak om hul varke óf onder markprys te verkoop, of na ander plekke te skuif. Van die varke hardloop ook nog vry rond in die veld. Die boere het intussen regshulp ingewin om hulle met hul stryd om grond te help.
Ofskoon afgevaardigdes van die kleinboere, sowel as oudraadslid Henry Jones en sy vriendin Christa Alaart Maandag tydens 'n ontmoeting vir die onderburgemeester Charlotte Clarke en 'n paar raadslede gevra het om twee weke uitstel, is die hokke ieder geval tot niet gemaak. 'n Prokureursbrief om vir grasie te vra het ook op dowe ore geval.
Die kleinboere moet self die materiaal verwyder nadat die hokke afgebreek is.
Volgens een van die raadslede met wie vergader is, is daar geen beloftes aan die groep gemaak nie.
Direkteur van beskermingsdienste, Steven Erasmus, het by navraag geantwoord dat die varkboere onwettig en sonder toestemming op raadsgrond geboer het. Hy het gesê die munisipaliteit se optrede is in terme van die munisipale verordeninge. "Die onwettige okkupeerders het self hul varke uit die betrokke residensiële gebied verwyder," het Erasmus gesê.
Beamptes hard aan die werk om die hokke af te breek. Foto: Kristy Kolberg
"Vanweë die moontlike risiko ten opsigte van die dragtige varke, is ‘n toegewing gemaak om laasgenoemde nie op hierdie stadium te verwyder nie."
"Die aksie wat geloods is, word deur die administrasie gedryf en is die politici dus glad nie betrokke by prosesse van hierdie aard nie," het Erasmus gesê. Van die kleinboere het die burgemeester, Melvin Naik, daarvan beskuldig dat hy die opdrag gegee het om die hokke af te breek.
Die varke was op die oog af goed versorg met heelwat beweegruimte, kos en modderpoele. Hierdie foto is verlede week geneem, kort na die wetstoepassingsbeamptes se eerste besoek. Foto: Michelle Pienaar
Klapperkop-drome
Die kleinboere beweer hulle het in 2006 toestemming ontvang van die wyksraadslid, op daardie stadium Henry Jones, om op die oop stuk grond tussen Delvillepark en Europe te boer. Jones het dit bevestig. "Daar was sprake dat hulle 'n stuk grond - Klapperkop - in Hansmoeskrans kry om te boer. Dit het toe nie gebeur nie en ek het vir hulle toestemming gegee om hulle tydelik hier te vestig," het Jones gesê.
Erasmus het gesê dat die munisipaliteit van tyd tot tyd grond deur middel van tenderprosesse vir kleinboere beskikbaar stel. "Die betrokkenes is welkom om aan die proses deel te neem."
Kyk 'n video hieronder:
* Small livestock farmers from Pacaltsdorp are up in arms following the breakdown of their pig cages by municipal law enforcement officers on Tuesday morning. The farmers have been using municipal property illegally for the last twelve years. They claim they had permission from their then ward councillor, Henry Jones, who confirmed this.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'