GEORGE NUUS - Kliënte van die Pacaltsdorp-kliniek kan verwag om nog vir maande lang wagtye en rye te verduur weens vertragings in die projek vir die uitbreiding van die kliniek.
Indien alles volgens plan verloop, sal die kontrakteur teen die tweede helfte van 2022 begin.
Volgens die distrikswoordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Nadia Ferreira, is die projek vertraag omdat die nasionale department, wat die projek finansier, dit op ys gesit het.
"Dit is weens Covid-19-prioriteite en omdat die ontwrigting van dienslewering tydens die Covid-golwe nie raadsaam was nie. Die nasionale departement van gesondheid moes ook eers die tender-evalueringsproses afhandel."
Die begroting vir die projek is R16 miljoen.
In reaksie op klagtes van die publiek oor die rye wat baie keer tot buite die gebou staan, het Ferreira gesê die huidige uitleg van die kliniek met klein wagareas en Covid-19-protokol wat in plek moet wees, beteken dat minder pasiënte binne mag wag.
"Ons het ongelukkig ook 'n uitdaging om pasiënte te kry om afspraaktye na te kom. Ons vra dat pasiënte slegs 30 minute voor hulle afspraak na die kliniek toe kom."
Sy het ook 'n beroep gedoen op stabiele chroniese pasiënte om hul medikasie by die afsetpunte af te haal, naamlik die JB Anderson-saal, die wit geverfde kerk in New Dawnpark en Rosedale-gemeenskapsaal.
Die aankondiging van planne om die kliniek te vergroot, is al bykans 'n dekade gelede gedoen en die fasiliteit moet voorsien in die behoeftes van 'n groeiende bevolking. Die kliniek is in 1981 opgerig.
Die opgradering behels onder meer nuwe konsultasiekamers, 'n apteek met 'n chroniese-resepteringseenheid, 'n noodkamer en 'n veeldoelige lokaal vir vergaderings.
In 2020 het George Herald minister Nomafrench Mbombo in 'n artikel aangehaal toe sy tydens 'n besoek aan die kliniek gesê het die projek sou na verwagting in die eerste finansiële kwartaal van 2021 (April-Junie) funksioneel wees. Toe was die projek reeds meer as een keer vertraag.
Mense moet buite wag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'