GEORGE NUUS - Twee mans is doodgesteek in twee afsonderlike voorvalle in Conville oor die naweek.
Die eerste voorval het in die vroeë oggendure, omstreeks 00:10, op Sondag 16 Januarie plaasgevind.
Die polisie is na 'n huis in George Moorestraat ontbied waar hulle die slagoffer (30) aangetref het. Paramedici het later die man op die toneel dood verklaar. Hy het verskeie steekwonde aan sy een been opgedoen.
Daar word beweer dat die oorledene in 'n bakleiery betrokke was waarna hy na die huis gegaan het om hulp te soek. Geen verdere inligting is in hierdie stadium bekend nie.
Later dieselfde oggend, omstreeks 06:50, is die Conville-polisie na die George-hospitaal ontbied waar 'n 20-jarige slagoffer vroeër die oggend aan sy wonde beswyk het.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die slagoffer steekwonde aan sy liggaam opgedoen waarna hy per ambulans na die hospitaal geneem is. Hy het later aan sy wonde beswyk.
Dié voorval het in Mitchell Bakerstraat in Proteapark, nie ver van George Moore-straat, plaasgevind.
Drie verdagtes (twee van 26 en een 27-jarige) is later op aanklag van moord in hegtenis geneem. "In hierdie stadium kan daar nog nie bevestig word of die voorvalle verband hou met mekaar nie, maar die moontlikheid word ondersoek," sê Spies.
Die drietal was sedert hul inhegtenisname in aanhouding by die George-polisiestasie en was geskeduleer om gister, Woensdag 19 Januarie in die George-landdroshof te verskyn. Teen druktyd was geen besonderhede rondom hul hofverskyning beskikbaar nie.
Die ondersoekbeampte, sers. Johannes Neh, het die publiek versoek om na vore te kom met enige inligting wat met hierdie ondersoeke kan help. Enigiemand met inligting kan die Conville-speurders by 044 803 3302 of Stop Misdaad, by 08600 10111 kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'