GEORGE NUUS - Bevredigende en blywende oplossings vir probleme waarmee van die inwoners in die informele woongebied van Parkdene worstel, bly ontwyk.
Toilette word gevandaliseer en hope vullissakke onwettig in hul midde gestort. Digte bosse naby hul huise bied wegkruipplek vir kriminele, maar word nie skoongemaak nie.
Mense in Circular-rylaan wat naby die Molenrivier woon, voel toenemend onveilig weens die oorgroeide walle van die rivier. Bosse strek tot op die rand van die informele nedersetting.
"Verlede jaar is die liggaam van 'n vermoorde meisie in die bosse gevind en hier is twee meisies verkrag. Ons kinders kan nie meer hier speel nie. Die munisipaliteit het die hele gebied in 2017 mooi skoongemaak en die gemeenskap het dit goed benut. Hulle het egter nou net 'n belaglike klein gedeelte gras voor die vakansie kom sny," sê die wykskomiteevoorsitter, Sammy Vorster.
Munisipale kommunikasiebeampte, Debra Sauer, sê senior bestuur van die munisipaliteit het die gebied besoek en bevind dat daar nie verder gesny kan word nie. Die gebied is deel van 'n groen gordel en erosie- en ander probleme kan ontstaan. "Die area is nie geoormerk vir 'n speelarea nie."
Sy sê 'n stormwaterpyp in hierdie gebied gaan nie verder gebou word tot in die rivier soos Vorster versoek nie. "Daar word tans 'n kopmuur gebou en klipbestrating gaan verder aangebring word om te verseker dat die stormwater voldoende gekanaliseer word."
Toilette
Die gemeenskap kla ook oor die aantal en toestand van toilette. Vorster sê elke ses of sewe gesinne deel 'n toilet en weens vandalisme is 'n paar gedurig buite werking. "Die munisipaliteit onderhou dit nie. Ons dink die oplossing is 'n opslaantoilet op elke erf om vandalisme te verhoed."
Een van die toilette wat erg gevandaliseer is.
Volgens Sauer het Circular-rylaan informele area 21 spoeltoilette vir 75 huisgesinne, wat meer is as die nasionale norm van een toilet vir vyf strukture.
Die munisipaliteit herstel dadelik stukkende toilette wanneer dit aangemeld word. Weens die baie informele nedersettings in die dorp, is dit egter onmoontlik om alle gebiede daagliks te besoek. "Die toilette in die betrokke nedersetting word as prioriteit beskou aangesien daar gereeld vandalisme voorkom."
Volgens Sauer kan die raad nie tans 'n toilet vir elke erf oorweeg nie aangesien fondse eers daarvoor begroot moet word.
Storting
'n Oop lappie grond reg tussen huise wat argeloos deur inwoners van elders in Parkdene as 'n stortingsplek gebruik word, is 'n ernstige gesondheidsrisiko. Vorster vra dat die munisipaliteit wetstoepassingsbeamptes op 'n tydelike basis daar stasioneer.
"Verhoogde sigbaarheid van wetstoepassing sal oortreders afskrik en die beampte kan mense op die plek beboet. Die gemeenskap is magteloos - die mense wat hulle vullis hier stort, raak aggressief of steur hulle net nie aan vermanings van die publiek nie."
Die stormwaterpyplyn eindig in die middel van die oop gebied waar kinders speel.
Sauer sê wetstoepassing se kapasiteit is te klein om 'n wetstoepassingsbeampte permanent by enige perseel waar storting voorkom, te plaas. Die gemeenskap kan oortreders by die wetstoepassingskantoor aanmeld by 044 801 6350 (kantoorure) of 044 801 6300 (na-ure).
"Beskrywings van die persone of voertuigregistrasienommers sal moontlik help om die skuldiges vas te trek. Wetstoepassing sal ook patrollies in die probleemgebiede verskerp. Die munisipaliteit het in Desember gereeld in Parkdene skoongemaak. Vanaf 7 Januarie maak ons weer drie keer per week in die woongebiede skoon en ons het op 12 Januarie op dié spesifieke plek in Circular-rylaan gewerk."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'