TUINROETE NUUS - Die transitoroofsaak waarin vier verdagtes van George, Simphiwe Matwa, Lwandiso Lento, Masixole Dolomba en Sakhele Nkabi, ‘n weermagkaptein, van gewapende roof, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla word, is in die streekhof vir die getuienis van twee verdedigingsgetuies tot 30 November uitgestel.
Die vier mans word daarvan beskuldig dat hulle na bewering op 19 Julie 2021 ‘n sekerheidswag by die Bridgton-vulstasie van sy vuurwapen en R86 000 kontant beroof het.
Matwa, Masixole en Lento is op 19 Julie, kort na die roof, aan George se kant van die Outeniqua-pad in hegtenis geneem. Nkabi is op 23 Julie in hegtenis geneem. Hulle staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie asook die onwettige besit van ‘n ongemagtigde vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is.
Borgtog is aan al vier die verdagtes geweier.
Nkabi het, net soos sy medebeskuldigdes, getuig dat hy niks weet van die rooftog nie en nie kennis dra van ‘n sak geld en vuurwapens wat op 19 Julie 2021 in ’n Nissan Sentra deur die polisie by die afdraai na Blanco gevind is nie.
Volgens hom het hy die betrokke dag ‘n geleentheid saam met Matwa vanaf George gekry wat ‘n afspraak by die Oudtshoorn-verkeersdepartement gehad het.
Hy het daarvandaan na sy kantoor gestap en is later met ‘n taxi terug na George omdat Matwa se motor probleme gegee het.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het dit aan Nkabi gestel dat hy ‘n storie opmaak en saam met sy drie medebeskuldigdes die rooftog by die Bridgton-vulstasie beplan het.
Die saak word deur streeklanddros Ntsoki Moni aangehoor.
Vorige artikels:
- Nog 'n kinkel in transitoroof se kabel
- Vermeende transitorowers wil appelleer
- Transitoroof: Borgtog aan al 4 geweir
- Transitoroof: Saak weens Covid uitgestel
- Transitoroof: Saak vir uitspraak uitgestel
- Borgtogaansoek op 17 Augustus voort
- Beweerde transitorowers voor vir borgtogaansoek
- Weermag kaptein doen in Augustus aansoek om borgtog
- Oudtshoorn soldier 4th suspect in heist
- Opvolg: Gesteelde geld teruggevind
- Rowers teiken geldwa
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’