Update Video
GEORGE NUUS & VIDEO - 'n Staaltjie oor Abrie de Swardt wat hy soms ten koste van homself vertel het, het aanwesiges Dinsdag by sy begrafnis in die NG Moedergemeente se kerkgebou laat glimlag.
Ds. Stephan de Swardt, 'n familielid van wyle De Swardt wat die bedankings gedoen het, het tydens die geleentheid die staaltjie vertel wat 'n aanduiding gegee het van sy humorsin. Volgens hom het Abrie dit gewoonlik met 'n glinstering in sy oë aan mense vertel.
As jongman was Abrie en nog ander, een aand op pad terug van 'n braai in Groot-Brakrivier. Bo-op die hoogte het die volmaan opgekom en hy het toe sy motor se ligte gedomp sodat die mense die volmaan behoorlik kon sien. Volgens ds. De Swardt het hy dit goedertrou aan mense vertel en sy vriende het hom nog lank daaroor gespot.
Die begrafnis is Dinsdag deur familie en vriende bygewoon, maar as gevolg van die inperkingsregulasies kon net 'n sekere aantal mense toegelaat word. Die diens is wel lewendig uitgesaai en dit het beteken dat talle mense in George en ook in ander dele van Suid-Afrika en selfs die buiteland dit kon volg.
Mense wat Dinsdag die begrafnis van wyle Abrie de Swardt in die NG Moedergemeente in George bygewoon het. Voor in die middel staan Abrie (seun), Sharon (eggenote) en Martin (seun). Foto: Eugene Gunning
De Swardt (70) een van George se bekendste inwoners is op 15 Augustus onverwags oorlede. Die begrafnisdiens is waargeneem deur dr. André Pieterse.
Voor die aanvang van die diens is talle huldeblyke van veral mense in die sportwêreld op 'n groot skerm gewys. Dit was 'n aanduiding van sy aansien in sportkringe.
Kyk 'n video hieronder:
By die ingang van die kerk het 'n kers gebrand met foto's van Abrie in sy jonger dae, as sportman en ook saam met sy familie.
Kort na 11:00 het sy eggenote, Sharon, vergesel van hul twee seuns, Abrie en Martin die kerk binnegekom.
Heel gepas was op die vooraansig van die program 'n Bybelteks 2 Timoteus 4:7-8: "Ek het die goeie wedloop afgelê, ek het die eindstreep bereik, ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God."
By die ingang van die kerk het 'n kers gebrand met foto's van Abrie in sy jonger dae, as sportman en ook saam met sy familie. Foto: Eugene Gunning
Pieterse het in sy verwelkoming benadruk dit is 'n geleentheid om die lewe te vier. "Abrie het 'n passie vir die lewe gehad. Hy het op vele terreine uitgestaan."
Hy het vertroosting gehad vir die wat Abrie gaan mis. Hy het verder gesê lewe triomfeer oor die dood. Dis die hoop wat gelowiges het.
Abrie junior het in 'n huldeblyk vertel dat sy pa 'n storieverteller was en lief was vir gesels. Sy pa het geglo aan die opheffing van ander. In huldeblyke in die program was Abrie en Martin dit eens dat hulle hul pa gaan mis.
Sharon het ook gesê sy sal hom ewig mis. Sy dood was te vinnig en te skielik.
Die vooraansig van die program van die begrafnis van wyle Abrie de Swardt. Foto: Eugene Gunning
Die agterkant van die program. Foto: Eugene Gunning
Vorige artikels:
- Volg Abrie se begrafnis aanlyn
- Abrie de Swardt - Gentleman wat graag help
- Talle bring hulde aan Abrie
- Abrie de Swardt oorlede
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'