GEORGE NUUS - George Herald-joernalis, Eugene Gunning was vir jare bevriend met Abrie de Swardt wat die naweek gesterf het tydens 'n roeimaraton by Hoërskool Outeniqua in George.
Hy deel 'n paar van die tree wat hy saam met sy vriend gestap het met lesers.
As openbare figure se name by woorde in verklarende woordeboeke kon staan, sou mens die naam Abrie de Swardt kon plaas by die woord, "gentleman".
Abrie, een van George se bekendste inwoners, is verlede Saterdag, 15 Augustus, onverwags op die ouderdom van 70 oorlede.
Vroeg die Saterdagmiddag het ek, net soos baie ander, in ongeloof gehoor van sy dood. Hy het vroeg die middag begin sleg voel by 'n funksie van die Kwagga Trust by Hoërskool Outeniqua. Hy is later op die toneel dood verklaar.
Net die vorige dag het ons nog per e-pos en WhatsApp-boodskappe gekommunikeer. Hy sou my die afgelope Maandag gehelp met 'n berig oor die 200-jarige herdenking van die 1820 Setlaars.
Eerste ontmoeting
Toe ek meer as 12 jaar gelede na George gekom het, was dit nie die eerste keer dat ons paaie gekruis het nie. In Julie 1980 het ons die eerste keer kontak gehad. Hy was 'n studenteleier aan die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) wat 'n kongres van die destydse Afrikaanse Studentebond (ASB) op die kampus van die destydse Potchefstroom Universiteit (Pukke) bygewoon het.
Ek was deel van die Pukke se reëlingskomitee vir die kongres. Die dag voor die kongres het ons saam na die destydse Jan Smuts-lughawe vertrek om 'n jeugafvaardiging van Inkatha (later die IVP) te gaan haal. Hulle het die kongres bygewoon en dit was 'n eerste. Dit het nogal 'n beroering veroorsaak - gegewe die destydse blanke politiek. Dit was 'n stukkie geskiedenis in die jeugpolitiek.
Op pad het ons gesels en waarskynlik het nie een van ons daardie dag 'n idee gehad van die politieke landskap wat in die toekoms wag nie.
Met my koms na George in 2008 het ons mekaar weer raakgeloop en gesels oor daardie dag se "stukkie geskiedenis" wat ons saam beleef het. Oor die jare hier in George was Abrie altyd bereid om te help met berigte en idees. Gou het ek besef dat hy by baie dinge, van sport tot kultuur, betrokke was. Opvallend was dat hy gedoen het, en nie net gepraat het nie.
Hy was ook nie bang om sy nek uit te steek nie. Toe daar vroeg vanjaar 'n polemiek oor die naam van wyle PW Botha ontstaan het, was hy bereid om standpunt in te neem. Hy het gevra dat daar darem iets van Botha behoue moet bly ter wille van die groot bydrae wat hy tot George gelewer het. Dit het gekom in die tyd toe besluit is om PW Botha Kollege se naam te verander na die Hoër Tegniese Skool Eden. Daarna het dit ook bekend geword dat pogings aangewend word om die naam van PW Botha-boulevard in die nywerheidsgebied te verander.
Hy het benadruk dat hy nie Botha se politieke optrede verdedig nie. "Ek beoordeel hom vir wat hy gedoen het om George te laat groei en ontwikkel," het De Swardt gesê. "Dit het daartoe gelei dat George die ekonomiese sentrum van die Suid-Kaap geword het."
Toe ek Saterdag van Abrie se dood hoor, was ek geskok, maar nie verras om te hoor dat hy dood is terwyl hy weer besig was om ander mense te help nie. Dit was Abrie de Swart - die gentleman wat altyd bereid was om ander te help.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'