VERMAAK NUUS - Die George-kameraklub se jaareindfunksie by The Hub by Groenkloof, George, was 'n prettige geleentheid met die tema, Flower Power.
Hulle is 'n aktiewe klub met ongeveer 70 lede wat twee keer per maand bymekaarkom. Elke tweede Dinsdag van die maand doen hulle 'n opleidingsessie en die laaste Dinsdag van die maand handig elkeen hul foto's in vir beoordeling.
Foto's kan ingeskryf word onder die tema van die maand, en dan nog drie kategorieë: fotografiese kuns, natuur, en ope afdeling.
"Elkeen se foto's word beoordeel en so leer 'n mens waar jy kan verbeter," sê die klub se publisiteitsbeampte, Laetitia Chandler.
Die byeenkomste begin 18:00 vir 18:30.
Klublede onderneem ook uitstappies saam waar hulle hul vaardighede oefen en soms nagfotografie geniet.
Chandler sê fotografie hoef nie meer so 'n duur stokperdjie met spesiale, duur toerusting te wees nie.
"Almal neem foto's met hulle selfone, wat deesdae goeie kameras het. 'n Mens kan daarmee begin en later 'n kamera aanskaf as jy wil. Ons nooi veral jongmense om betrokke te raak."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’