GEORGE NUUS - 'n Groepie kleinboere wat in Loerie-singel op die rand van die New Dawnpark-woonbuurt in Pacaltsdorp vee aanhou, moet al hulle vee verwyder in opdrag van die George-munisipaliteit.
Dit volg nadat 'n buurman, Michael Kerspuy, George Herald genader het ná verskeie onsuksesvolle probeerslae om die munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling sover te kry om gehoor aan sy klagte oor die plaasdiere te gee. Die hokke waar hulle aangehou word, is 'n klipgooi van Kerspuy se agterdeur af.
Die munisipaliteit het ondersoek ingestel in reaksie op 'n navraag van die koerant. Debra Sauer, die munisipale kommunikasiebeampte, het verlede week gesê 'n grondgebruikaansoek deur 'n groep applikante op die betrokke grond is hangende, maar dit is vir 'n groenteboerdery en nie vir die aanhou van plaasdiere nie.
"Tydens 'n vergadering wat op 26 November met die applikante gehou is, het die munisipaliteit dit duidelik gemaak dat die huidige aansoek slegs vir 'n groentetuin is. Die applikante het 'n petisie met 36 handtekeninge van omliggende inwoners ingehandig. Hulle het ook hul kommer gelug oor 'n buurman wat 'n gedeelte van 'n stuk munisipale eiendom okkupeer sonder goedkeuring."
Die munisipaliteit het die applikante opdrag gegee om alle plaasdiere binne 14 dae te verwyder, wat hulle aanvaar het.
Die munisipaliteit het ook die klaer opdrag gegee om 'n heining wat hy na bewering sonder toestemming op munisipale grond opgerig het, te verwyder. "Die klaer het aangedui dat hy nie hieraan sal voldoen nie."
Volgens Sauer wil die munisipaliteit eers uitsluitsel verkry oor die uitslag van die grondgebruikaansoek en die area wat deel vorm van die Pacaltsdorp-groentetuinprojek, voordat die aangeleentheid van die beweerde onwettige okkupasie deur die klaer aangespreek sal word. Gepaste optrede, indien nodig, teen enige beweerde onwettige grondbesetting sal dan moontlik wees.
George Herald het vroeër berig dat die aanhou van die vee die verhouding tussen Kerspuy en sy boerbuurman, Pieter Jonck, wat deel vorm van die groep applikante, erg versuur het. Kerspuy het gekla dat die plaasdiere vlieë lok en tot onaangename reuke lei.
Volgens Jonck is hulle 'n groepie boere wat saam 'n ooreenkoms met die navorsingsplaas buite George het, en hulle boer al 'n klompie jare daar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’