Update
GEORGE NUUS - Huldeblyke het sedert die afgelope naweek ingestroom vir wyle Abrie de Swardt, een van George se bekendste inwoners wat Saterdag, 15 Augustus onverwags oorlede is.
Hy is onder meer beskryf as iemand met 'n goeie sin vir humor wat altyd tyd vir sy medemens gehad het.
De Swardt (70) het aan 'n roeimarathon van die Kwagga Trust by Hoërskool Outeniqua deelgeneem wat gehou is om fondse in te samel. In 'n stadium het hy blykbaar nie lekker gevoel nie. Hy is op die toneel behandel, maar is later dood verklaar. Hy het vermoedelik aan 'n hartaanval beswyk.
Benewens die talle huldeblyke, het lesers op George Herald se Facebook-blad ook net lof gehad vir die wonderlike werk wat De Swardt gedoen het. Benewens sy sterk verbintenis met sport, het hy ook diep spore in kultuurkringe getrap.
De Swardt se eggenoot, Sharon, het Maandag gesê sy dood is 'n groot skok en 'n geweldige verlies. Hy het Saterdagoggend nog voor hy by die huis weg is, baie uitgesien na die roeimarathon.
Volgens haar het hy nooit hartprobleme gehad nie en was hy fiks en gesond. "Hy het alles voluit gedoen."
Bevin Fortuin, voormalige kaptein en afrigter van die SWD Arende, het gesê De Swardt het in 2013 die Arende met spoedoefeninge begin help.
"In die styl wat ons destyds gespeel het, het hy met die spoedoefeninge gehelp. In die drieë wat ons gedruk het was daar 'n oom Abrie-flavour." Volgens Fortuin is dit 'n groot legende wat totsiens gesê het.
Natie de Swardt, 'n familielid, het gesê dat De Swardt nuuskierig en leergierig was. "Hy wou altyd sy kennis verbreed." Hy het 'n baie groot kennis van sport en sportmense gehad. Hierbenewens, het hy George se geskiedenis ook baie goed geken.
"Hy was positief en meelwend, hulpvaardig en altyd bereid om te help."
Wilkie Barkhuizen, ondervoorsitter van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika se Suid-Kaap-tak, het gesê De Swardt se dood is 'n ontsettende skok. "Dis 'n groot verlies vir George."
Hy en De Swardt was vriende en het mekaar byna 50 jaar geken. Hulle het baie nou saamgewerk by die Suid-Kaapse tak van die Genealogiese Genootskap waar De Swart die voorsitter was.
Gerda Stols wat De Swardt as lid van die George-museumraad geken het, het gesê hy was bekwaam en het baie vir die museum gedoen. De Swardt en sy vrou was nog Vrydag by Stols-hulle aan huis.
"Hy is iemand wat geweet het wat hy wil doen en was taakgerig."
Christo Vorster, hoof van Hoërskool Outeniqua, het gesê De Swardt se afsterwe is hartseer. "Abrie het in 1967 hier matriek geskryf en was een van ons lojaalste oud-Kwaggas. Ons het 'n groot gees verloor.”
De Swardt word oorleef deur sy vrou, Sharon en twee seuns, Abrie en Martin. Die begrafnis sal 'n privaat en slegs vir familie wees.
Vorige artikel: Abrie de Swardt oorlede
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'