GEORGE NUUS - Een van George se bekendste inwoners, Abrie de Swardt, is vandag, Saterdag 15 Augustus, onverwags oorlede.
Die presiese oorsaak van sy dood is nog onbekend, maar hy het na bewering ‘n hartaanval gehad.
De Swardt (70) het na verneem word aan ‘n roeimarathon van die Kwaggatrust by die Hoërskool Outeniqua deelgeneem. In ‘n stadium het hy blykbaar nie wel gevoel nie en ‘n dokter wat op die toneel was, het hom behandel. Na verneem word is nooddienste ook na die toneel ontbied en kort na 13:30 vanmiddag is hy dood verklaar.
De Swardt was die kaptein van een van die 10 roeispanne wat aan die roeimarathon deelgeneem het. Dit was ‘n fondsinsameling waartydens elke span 100 km moes roei.
Volgens iemand wat die geleentheid bygewoon het, was De Swardt vanoggend in ‘n goeie luim en het grappies gemaak.
Benewens in kultuurkringe was De Swardt ook internasionaal bekend as atletiekafrigtrer. Hy was by meer as een Olimpiese Spele betrokke by die afrigting van die Suid-Afrikaanse atletiekspan.
Wilkie Barkhuizen, ondervoorsitter van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika se Suid-Kaaptak, het gesê De Swardt se dood is ‘n onsettende skok. De Swardt was die voorsitter van die tak. “Ek kan sy dood nie verwerk nie,” het hy gesê. “Ons ken mekaar al byna 50 jaar en het nog Vrydag gesels. Hy het gepraat oor die roeigeleentheid waaraan hy gaan deelneem. Alles wat hy gedoen het, het hy met oorgawe gedoen.”
Hugo Redelinghuys, George Herald se sportredakteur, het gesê die nuus kom as 'n groot skok. "Dis so onwerklik. Ek is oorbluf en geskok. Toe die bevestiging deurkom dat die vermaarde atletiek- en sportafrigter Abrie de Swardt aan ‘n hartaanval beswyk het, het ‘n magtelose hartseer my verswelg met dié wete dat ‘n legende in Suid-Afrikaanse atletiek nie meer daar is nie,” het Redelinghuys gesê.
“Vir my krap dit ou wonde oop, want net meer as ‘n jaar gelede is nog ‘n sportlegende in George, André Stander, ook aan ‘n hartaanval oorlede. Ons drie het gereeld saam koffie gedrink en oor sport in die Suid-Kaap gesels. Twee groot stemme is nou stil.
“Abrie se volkome toewyding aan sport, meer spesifiek atletiek, het hom bo die meeste laat uittroon. Dis gedoen ten koste van baie dinge wat kleur en vreugde aan die lewe gee. Hy was opreg en geliefd en het in sy persoonlike verhoudinge altyd ‘n heer gebly. Hy behoort tot Suid-Afrika se grootste atletiekreuse.”
Lourens Selzer, ‘n vriend, het gesê hy het nog Vrydag met De Swardt gesels oor die roeigeleentheid: “Hy was baie opgewonde daaroor.”
Christo Vorster, hoof van Hoërskool Outeniqua, het bevestig dat De Swardt ‘n geleentheid van die Kwaggatrust bygewoon het. “Dis hartseer. Abrie het in 1967 matriek geskryf en was een van ons lojaalste oud-Kwaggas. Ons het ‘n groot gees verloor.”
De Swardt word oorleef deur sy vrou, Sharon, en twee seuns, Abrie en Martin.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'