GEORGE NUUS - Tobie le Roux, 'n Kapenaar, was kort voor Kersfees die slagoffer van diewe wat goedere ter waarde van ongeveer R5 800 uit sy Toyota Fortuner gesteel het.
Die insident het om 10:30 op 19 Desember in die Garden Route Mall se parkeergebied plaasgevind, tussen die restaurant- en Van Rensburgs-ingange.
Volgens Le Roux het die booswigte 'n afstandbeheertoestel gebruik om te keer dat sy motor sluit toe hy die afstandbeheersluitknoppie van sy motorsleutels gedruk het. Hulle het hul inkopies gaan doen, salig onbewus van die diewe wat sy motor stroop, vertel hy.
"Ek wil ander motoriste waarsku om op hulle hoede te wees en seker te maak hul motor is gesluit voordat hulle wegstap."
Le Roux is ongelukkig oor die manier waarop die mall sy klagte hanteer het en meen die mall moet hom vir sy verlies vergoed.
Hy sê die opname op die sekuriteitskamera toon hoe die drie diewe toegang tot sy motor verkry en die agterdeur oopmaak om artikels uit te haal. "Die situasie lyk verdag. In die opname lyk dit asof die karwag doodluiters na die diewe kyk en dan sy rug draai. Hy het ook gedurig in 'n ander motor se kattebak gevroetel, wat glo sy eie motor is."
Le Roux sê indien daar 'n veiligheidskamera by die restaurant-ingang was, sou hulle moontlik die diewe se voertuigregistrasienommer kon eien. Volgens hom het sekuriteitspersoneel gesê kameras vanaf die restaurant se kant is egter geskuif. "Die ander opsie om die registrasie te kon vasstel, is die kamera by die toegangshek, maar dié was nie geaktiveer nie."
Volgens Le Roux is 'n Rayban-vrouesonbril, Oakley-mansonbril, Leatherman-stel, 'n aktetas, batterylaaier, oorleikabel ("jumber cable") en herwinningskabel gesteel. "Ons is in 'n netelige situasie. Ons kan nie 'n eis indien by ons versekeringsmaatskappy nie, want ons kan nie bewys dat gedwonge toegang verkry is nie."
Geoff Warner, die mall se operasionele bestuurder, het gesê ná deeglike ondersoek van die insident, het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat Le Roux se aantygings ongegrond is.
"Die kamera by die hek was buite werking weens beurtkrag. Geen ander kameras was buite werking of is geskuif nie. Enige kameras wat buite werking raak, word by ons diensverskaffer aangemeld om reggemaak te word. Dit blyk dat mnr. Le Roux nalatig was en nie sy voertuig gesluit het nie."
Volgens Warner sal parkeerjoggies gereeld oop vensters en ander moontlike sekuriteitsrisiko's aanmeld. 'n Plakker word dan op die betrokke voertuig se ruit geplaas.
"Dit bly die besoeker se verantwoordelikheid om te verseker dat hulle voertuig gesluit is en dat daar geen waardevolle items in die voertuig gelos word nie. Mnr. Le Roux moet 'n saak by die polisie en by sy versekeraars aanmeld. Ons sal alle beeldmateriaal en ondersteunende inligting aan die ondersoekbeampte verskaf om hom met die ondersoek by te staan."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'