Die kollege was enig in sy soort in Suid-Afrika en is gevestig na die grond in 1928 verkoop en ontbos is, toe nog deel van die Groenkop-bosreservaat.
In 1931 is 'n besluit geneem om die opleidingsentrum in Tokai in die Kaap na Saasveld te verskuif en so is die kollege gebore toe die minister van landbou, genl. JC Kemp die hoeksteen 80 jaar gelede op 22 Julie 1932 gelê het. Dit was eers bekend as Paradise- (Paradys) bosbouskool, maar die naam het nie byval gevind nie en daar is besluit om terug te keer na die oorspronklike Saasveld-naam.
Die naam
Die naam Saasveld is van Hollandse oorsprong en gaan terug na die stamvader van die Van Reedes in Suid-Afrika. 'n Gedeelte van die grond waarop die Saasveld-bosbou-kollege was, is in 1854 deur baron Pieter van Reede gekoop en om sy Hollandse familie-tradisie te laat voortleef het hy dit Saasveld genoem. Met die verkoop van die eiendom het die naam verlore gegaan, maar dit het later weer herleef.
Bosbouers
Saasveld-bosboukollege, wat uitsluitlik gebruik was om bosbouers op te lei, was geleë tussen die Outeniquaberge en die Indiese Oseaan. Tussen 1932 en 1985 is ongeveer 1300 bosbouers opgelei wat later deur die staat of privaat maatskappye soos Mondi en Sappi aangestel is.
Gedurende ontwikkeling in die Kaapkolonie in die 1800's was daar 'n groot vraag na boustrukture en houtmeubels. Dit het gelei tot 'n ongesonde druk op die inheemse bosse in die Suid-Kaap wat reeds sedert Jan van Riebeeck se dae oorbenut is. Vir versiendes was dit voor die hand liggend dat die opbou van plantasies met vinnig groeiende eksotiese bome en die nodige opgeleide bosbouers nodig was.
Om in hierdie behoefte te voorsien het SACS (Southern Association of Colleges and Schools) in 1902 'n kursus vir boswagters begin, maar dit is vervang deur die Tokai Skool vir bosbouvakleerlinge in 1912. Op hierdie stadium het bosbou onder die Departement van Landbou geval en was hulle meer bewaringsbewus as begaan oor bosaanplanting en gevolglik was daar maar min bosbouers. Met die geweldige groei in die houtbedryf is daar besluit om Saasveld na die oorspronklike Pampoenkraal te hervestig as gevolg van nabyheid aan die inheemse bos, oop area geskik vir plantasies van eksotiese bome, saagmeulens en droogoonde in George.
Eienaarskap
In 1917 is Saasveld deur die George Forest Timber Co. en later deur Seales Limited gekoop. In 1928 is eienaarskap van die grond oorgedra aan die staat en is daar begin met die konstruksiewerk aan die kollege. Die PE Tegnikon het later uitgebrei na die Suid-Kaap en het in 1985 die Saasveld-bosboukollege van die Departement van Bosbou oorgeneem.
1990 ook henne onder die hane.
Daar was groot tevredenheid oor die feit dat 211 nuwe studente hulle in 1990 by die Saasveld-bosboukollege vir kursusse ingeskryf het. Die aantal swart en bruin studente het verdubbel en daar was ook drie henne onder die hane. Mnr. Scriba, direkteur van die bosboukollege, was veral ingenome met die 24 inskrywings wat ingekom het vir die nasionale diploma in houtproduksie-ingenieurswese.
'n Kursus wat daardie jaar vir die eerste keer aangebied is. Die kursus, waarvoor 'n maksimum van 25 studente aanvaar kon word, is sedert 1977 aan die Technikon Pretoria aangebied. Dit was ook die tweede jaar waarin bruin en swart studente tot die kollege toegelaat is. Twee vroue het hulle vir die nasionale diploma in bosbou ingeskryf en een vir die kursus nasionale hoër diploma in bosbou.
1993 rekord getal studente
Die Saasveld-bosboukollege, het in 1993 'n rekord getal studente en nuwe kursusse aangebied. Dit het ingesluit 'n skakelprogram met bosbou-inrigtings in Kanada en steun wat 'n Kanadese ontwikkelingsagentskap gaan verleen. Op hierdie stadium staan Saasveld bekend as Fakulteit Bosbou, en in hierdie jaar word daar vir die eerste keer nasionale diplomas in landboubestuur en natuurbewaring aangebied. In 1993 is die totale studentetal 375 en hulle het verwag dat dit tot 500 sou styg.
PE Tegnikon, Universiteit van Port Elizabeth en die PE-kampus van Vista Universiteit smelt op 1 Januarie 2005 saam en Saasveld word 'n satellietkampus van Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU).
Toe die voormalige Saasveld-bosboukollege, deesdae die NMMU, in 2008 75 jaar oud geword het, het prof. Brian Bredenkamp van die Departement Bos- en Houtkunde, 'n bundel staaltjies vanuit die bosboubedryf vrygestel.
Hy was in die laat sestigerjare 'n student op Saasveld. Die staaltjies is oor 'n tydperk van twee dekades vasgelê wanneer bosbouers saam om 'n braaivuur kuier, vandaar die titels Met 'n biertjie in die hand en With a beer in the hand. Prof. Bredenkamp is tans verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch en het ongelukkig aan my bevestig dat die staaltjies uit druk is.
Die geskiedenis van Saasveld-bosboukollege is veel ryker as wat ek hier aanmekaar kon timmer. Die foto's wat prof. Bredenkamp beskikbaar gestel het, gee ons 'n kykie op die dae toe eerstejaars by Saasveld met 'n baadjie en 'n das aangemeld het.
.jpg)
Saasveld eerstejaars 1960. Agter van links: Lighty Fourie, Japie Jacobs, (Klein) Dup du Plessis, Joe Wylie, John Fick, Barry (Rocky) Stone, Mike Hall, Rudi Wilhelmi, Louis (Stofman) van der Merwe. Middel van links: Stras Straszacker, Klasie Klaasen, Peet Myburgh, Koos Burger, Blondie Geertsema. Voor van links: Piet Erasmus, Piepies Piepmeyer, Charlie Marais, Biba (Malcolm) Robinson, Rusty Jarmain, Brian (Bugs) Ellison.

Tennis 1966. Voor: Dick Needham, Ernie Carelse, Sarel du Toit, John Krige en Dave Hempson. Agter: Rassie Erasmus, Jeanne Verdoucq, Denham Grey, Derek Weston, Jan Rossouw en Rusty Jermyn.
ARTIKEL: EMSIE MARTIN